Nuus 08:00
BULLETIN 26 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola betreur die afsterwe van ambassadeur Mahlangu
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers daag die NGV opnuut uit
# En Netanyahu sê hy betreur die tragiese voorval by die Nasser-hospitaal
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het sy hartseer uitgespreek na die dood van Suid-Afrika se hoë kommissaris in Kenia, Mninwa Mahlangu. Hy is Sondag na ‘n kort siekbed in die hospitaal oorlede. Mahlangu was ook geakkrediteer as Pretoria se ambassadeur in Somalië en permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies se kantoor in Nairobi. Hy was ook ondervoorsitter en later voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Dirco-woordvoerder Chrispin Phiri sê Mahlangu was ʼn ware patriot:
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers het ʼn nuwe regsgeding aanhangig gemaak om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering op te hef. Hy vra die Konstitusionele Hof om die wetgewing onwettig en ongeldig te verklaar omdat die Parlement nie ʼn behoorlike openbare konsultasieproses gevolg het nie. President Cyril Ramaphosa het die wet in Mei verlede jaar bekragtig. Katlego Mothudi van die raad het aan Newzroom Afrika gesê die Parlement het ʼn wet bekragtig sonder enige redelike begrip van hoe dit in die praktyk gaan werk:
# Die Stad Kaapstad is bekommerd oor die onlangse toename in geweld tussen die Kaapse Verenigde Taxivereniging en die Kaapse Organisasie vir die Demokratiese Taxivereniging in Somerset-Wes, Lwandle en groter Helderberg-gebied. Gister se twee afsonderlike skietvoorvalle waarin drie volwassenes dood en ses mans beseer is, hou verband met voortslepende taxigeweld in Kaapstad. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê hierdie geweld is misdadig en roekeloos:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het berou oor die tragiese voorval by die Nasser-hospitaal in Gaza. Minstens 20 mense, insluitend vyf internasionale joernaliste, is dood in ʼn Israelse bomaanval. Die jongste sterftes bring die aantal joernaliste wat sedert die begin van die oorlog in Oktober 2023 in Gaza dood is, op byna 200 te staan. Netanyahu sê militêre owerhede is besig met ʼn deeglike ondersoek. Hy sê Israel heg waarde aan die werk van joernaliste, mediese personeel en alle burgerlikes.
# Krieket: Die gewese Indiese kaptein, Sourav Ganguly, gaan Pretoria Capitals afrig in die vierde seisoen van die SA20. Dit is die 53-jarige se eerste probeerslag as breier. Hy vervang die gewese Engelse kolwer Jonathan Trott, terwyl die voormalige veelsydige Protea-speler Shaun Pollock die hulpafrigter is. Ganguly het ‘n administrateur geword na sy uittrede in 2008 en was tussen 2019 en 2022 president van die Indiese beheerliggaam, die BCCI. Hy was vroeër ook ‘n mentor vir die Indiese Premierliga-span Delhi Capitals. Die volgende SA20 begin op 26 Desember.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-193-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….