Nuus 07:00
BULLETIN 25 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau is getaak om ‘n nuwe voorsitter vir die Loterykommissie aan te stel
# Eskom vier 100 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag
# En rugby: Die Bok-stut Asenathi Ntlabakanye toets positief vir ‘n verbode middel
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sal na verwagting binnekort ‘n nuwe voorsitter van die Nasionale Loterykommissie aanstel, na die bedanking van Barney Pityana. Die 80-jarige het met twee jaar oor in sy vyfjaartermyn bedank, nadat hy in 2022 aangestel is om die skandaal-geteisterde Alfred Nevhutanda te vervang. Tau, wat pas teruggekeer het van die Negende Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkelingsberaad in Japan, sal ‘n leier soek om teen-korrupsiehervormings te dryf terwyl die Spesiale Ondersoekeenheid voortgaan om projekte ter waarde van meer as twee-miljard-rand te ondersoek.
# Eskom sê sy operasionele vordering spruit uit die opwekkingsherstelplan wat in Maart 2023 ingestel is. Hy voeg by dit word toegeskryf aan die toewyding van spanne wat daaraan werk om die nasionale netwerk te bestendig en te versterk. Die kragverskaffer het Sondag 100 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag gevier. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê in die huidige 2025/2026-boekjaar was daar tot op hede 26 uur beurtkrag en 144 dae van betroubare elektrisiteit:
# Die vakbond Numsa het vir die voertuigsektor ‘n loonooreenkoms vir die volgende drie jaar onderteken wat bo inflasie is. Dit dek 300-duisend werkers wat onder die bedingingsraad vir die motorbedryf val. In die eerste jaar ontvang werkers ʼn loonverhoging van ses-persent en in die tweede en derde jaar ʼn verhoging van vyf-persent. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle het vir die eerste keer ook voordele vir basiese gesondheidsorg beding vir werkers by motorhawens in die sektor:
# Oudpresident Jacob Zuma het die instelling van ‘n enkele Afrika-geldeenheid bepleit om handel op die vasteland te versterk. Zuma het by die Universiteit van Professionele Studies in Accra, Ghana, aangevoer dat afhanklikheid van die Amerikaanse dollar intra-Afrika-handel belemmer. Hy het gesê ‘n verenigde geldeenheid kan transaksiekoste verlaag, handel vereenvoudig en ekonomiese eenheid bevorder. Terwyl die idee ooreenstem met die doelwitte van die Afrika-Unie en die Afrika-vryhandelsgebied, waarsku kenners dat ekonomiese ongelykhede, verskillende monetêre beleide en politieke weerstand die instelling daarvan ‘n langtermyn-uitdaging maak.
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land sal nooit weer in die skande, wat Rusland ʼn skikking noem, gedwing word nie, en beklemtoon dat hulle net vrede nodig het. Hy het Sondag die land se 34ste Onafhanklikheidsdag gevier met ʼn toespraak op Kiev se sentrale plein. Rusland het op die vooraand van Onafhanklikheidsdag 72 hommeltuie en ʼn ballistiese missiel op Oekraïne afgevuur, maar die meeste is afgeskiet. Zelensky sê sy land sal voortgaan om vir sy vryheid te veg al word sy oproepe vir vrede nie gehoor nie.
# Rugby: Die Springbok-stut, Asenathi Ntlabakanye, het positief getoets vir ʼn verbode middel en is gevolglik uitgelaat vir die komende toer na Nieu-Seeland. Die 26-jarige speler het positief getoets by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport. Ntlabakanye ontken dat hy ʼn oortreding begaan het. SA Rugby sê Ntlabakanye het op relevante mediese raad staatgemaak en wou op geen stadium onregmatig voordeel trek nie. Hy het ook geen mediese middels geneem sonder om vooraf goedkeuring te kry nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-856-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….