Nuus 09:00
BULLETIN 24 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se Onderwyskomitee is bekommerd oor die toename in skoolgeweld
# ActionSA kritiseer die regstelsel wat fluitjieblasers in die steek laat
# En Suid-Afrika het ‘n nuwe boereworskampioen
# Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Onderwys is bekommerd oor toenemende geweld en afknouery in Suid-Afrikaanse skole. Die voorsitter, Joy Maimela sê video’s wat leerders wys wat onderwysers dreig en mekaar aanval, beklemtoon ‘n toenemende krisis. Die komitee het ‘n beroep gedoen op sterker vennootskappe tussen skole, ouers, gemeenskappe en wetstoepassing. Sy beklemtoon dat veilige leeromgewings beide sekuriteitsprotokolle en inklusiewe, respekvolle kulture vereis wat leerders se waardigheid en regte beskerm:
# ActionSA sê die regstelsel hou aan om fluitjiebkasers wat korrupsie in Suid-Afrika ontbloot, in die steek te laat. Dit volg op die herdenking gister van die sluipmoord op die fluitjieblaser Babita Deokaran, met die meesterbrein agter haar moord steeds onbekend, en haar familie sonder geregtigheid gelaat. ActionSA het ook soortgelyke gevalle, insluitend Marumo Phenya, genoem as tragedies wat voorkom kon word. Die party het belowe om privaat lede-wetsontwerpe in die Parlement ter tafel te lê om fluitjieblaserbeskerming en die aansporing van rapportering te versterk en die stryd teen korrupsie in Suid-Afrika te verskerp.
# Die vakbond NUMSA het sy frustrasie uitgespreek oor die voortslepende sakereddingsproses by SA Steel Mills en waarsku die toekoms van meer as 700 werkers is op die spel. ‘n Woordvoerder van NUMSA, Phakamile Hlubi-Majola, sê werkers staar finansiële ondergang in die gesig terwyl potensiële kopers oorweeg word. Sy versoek dat die Nywerheidsontwikkelingskorporasie die beskerming van werkersposte vooropstel en werkerswelstand in gedagte hou wanneer die vergadering met die NOK op 1 September plaasvind:
# Turkye se presidentsvrou, Emine Erdoğan het aan Melania Trump geskryf en haar aangespoor om dieselfde besorgdheid vir die kinders in Gaza te toon as oor Oekraïense kinders wat deur oorlog geraak word. Trump het voorheen haar eie brief aan die Russiese president Vladimir Putin gestuur oor die byna 20-duisend Oekraïense kinders wat volgens die Kiëf-regering gedurende die drie jaar van oorlog ontvoer is. Erdoğan het Trump aangespoor om die voortdurende lyding in Gaza aan te spreek, waar nagenoeg 18-duisend kinders die afgelope twee jaar dood is. Sy het voorgestel dat Melania ‘n brief aan die Israelse premier Benjamin Netanyahu stuur waarin sy ‘n einde aan die krisis versoek.
# Rugby: Die Cheetahs het Saterdagmiddag ‘n stewige vertoning gelewer om ‘n oorwinning van 47-31 oor die Leeus te behaal. Die oorwinning plaas hulle boaan die puntelys, voor die Boland Kavaliers. Dit was ‘n wedstryd met twee uiteenlopende helftes. Die tuisspan het in die eerste 40 minute ‘n groot voorsprong opgebou. Die besoekers het in die tweede helfte teruggeveg en amper die agterstand omgeswaai, maar die Cheetahs was te sterk. Die Cheetahs het ses drieë en vyf doelskoppe aangeteken teenoor die Leeus se vyf drieë en drie doelskoppe.
# En ten slotte: ‘n Drie-en-dertigjarige motorhandelaar van die Paarl is gister in Kaapstad aangewys as die 33ste Shoprite en Checkers Boerewors-kampioen. Roberto-Rui Agrela het as die land se beste boereworsmaker na vore getree en afgereken met meer as twee-duisend-350 hoopvolles wat vanjaar aan die kompetisie deelgeneem het. Saam met spogregte ry Agrela weg in ‘n Toyota Fortuner en 20-duisend-rand kontant. Suid-Afrikaners kan die land se beste boerewors vanaf 5 September proe wanneer dit landswyd op die rakke verskyn, net betyds vir Erfenismaand en die Springbokke se botsing teen Nieu-Seeland op 6 September
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….