Nuus 13:00
BULLETIN 23 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê werkloosheid en ongelykheid is steeds die grootste ekonomiese uitdagings
# Eskom se onbeplande kragonderbrekings daal tot onder agtduisend-megawatt
# En Lyle Menendez se parool word geweier ‘n dag nadat broer s’n ook verwerp is
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê werkloosheid en ongelykheid bly Suid-Afrika se grootste ekonomiese uitdagings. Tydens die Tesourie se eerste openbare mikro-fiskale beleidswerkswinkel in Pretoria het hy stadige groei, hoë skuld en stygende befondsingsdruk as voortdurende bekommernisse uitgelig. Hy sê in sy vierde jaar in die amp was daar sekere verrassings in die beplanning van die begroting. Hy sê ‘n stagnante ekonomie beperk inkomste. Godongwana beklemtoon volhoubare ekonomiese groei is noodsaaklik is om armoede en ongelykheid aan te pak:
# Vandag is vier jaar sedert die fluitjieblaser Babita Deokaran buite haar huis in Winchester Hills in Johannesburg doodgeskiet is nadat sy verdagte betalings van 100-miljoen-rand by die Tembisa-hospitaal blootgelê het. Die enkelma en hoofrekenmeester van die Gautengse Gesondheidsdepartement is in ‘n koeëlreën dood oomblikke nadat sy haar dogter by die skool afgelaai het. Ses mans is sedertdien skuldig bevind, maar die meesterbrein is steeds op vrye voet. Haar familie hou vol dat ware geregtigheid eers met die arrestasie van die meesterbrein sal kom. Die familie het ‘n hernude beroep gedoen vir beter beskerming van fluitjieblasers.
# ‘n Veroordeelde gevangene op parool is weer agter tralies nadat hy in Mamelodi betrap is terwyl hy bier in ‘n motor gedrink het tydens ‘n verrassingsbesoek deur beamptes van Korrektiewe Dienste. Die beamptes van die departement het ‘n roetine-besoek afgelê by veroordeeldes op parool wat skuldig bevind is aan ernstige misdade, insluitend geslagsgeweld. Die Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, het aan Newzroom Afrika gesê die veroordeelde het sy paroolvoorwaardes geskend, wat tot sy onmiddellike heropsluiting gelei het:
# Eskom het bevestig dat onbeplande onderbrekings in Suid-Afrika gedaal het tot seweduisend-265-megawatt, die laagste sedert Desember 2020. Dit volg namate Eskom se Opwekkingsherstelplan die werkverrigting van kragstasies verhoog. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê die kragstelsel bly bestendig met 30-duisend-442-megawatt beskikbaar. Eskom beplan om teen Maandag vierduisend-850-megawatt se opwekkingsvermoë te herstel. Sy het bevestig dat die nutsmaatskappy tot dusver vanjaar aan meer as 97-persent van die elektrisiteitsaanvraag voldoen het, sonder enige beurtkrag sedert 15 Mei:
# ‘n Paroolraad in Kalifornië het parool geweier vir Lyle Menendez, wat saam met sy broer skuldig bevind is aan die moord op hul ouers in 1989. Erik Menendez is Donderdag parool geweier. Dit is ‘n verlammende slag vir beide broers ná jare se stryd om vrylating. Die goewerneur van Kalifornië, Gavin Newsom, het die mag om paroolbesluite om te keer, en die broers soek afsonderlik kwytskelding en ‘n nuwe verhoor. Hulle het hul ouers op 20 Augustus 1989 doodgeskiet en sê al lank hulle het hul ouers uit vrees vermoor na ‘n leeftyd van mishandeling, veral deur hul pa.
# En sokker: Die Suid-Gautengse Hooggeregshof het beslis dat die afrigter Pitso Mosimane en sy agentskap, MT Sports, meer as sewe-miljoen-rand, plus sewe-persent rente vanaf Mei 2021 aan Mamelodi Sundowns moet terugbetaal. Dit volg na Mosimane se vertrek na Egipte se Al Ahly in 2020, enkele maande na ‘n vierjaar-kontrakverlenging met ‘n terugvorderingsklousule. Regter Shaanaz Mia het die klousule en die Hooggeregshof se jurisdiksie gehandhaaf. Mosimane se regspan beplan om teen die uitspraak te appelleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….