Nuus 08:00
BULLETIN 23 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge oorhandig 17-duisend handtekeninge teen raswette
# ‘n Oekraïense aanval stuit Rusland se olievloei na Hongarye en Slowakye
# En rugby: ‘n Briljante Boland Kavaliers behaal ‘n oorwinning teen die Pumas
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die regering moet fokus op beleide wat dit makliker maak vir ondernemings om werkers aan te stel. Die organisasie het ‘n versoekskrif met meer as 17-duisend handtekeninge aan die Departement van Indiensneming en Arbeid oorhandig, om ‘n einde aan rasgebaseerde wette te eis. Makone Maja van die instituut waarsku rasgebaseerde wette ontmoedig beleggings en vererger werkloosheid, wat nou tot 33,2-persent gestyg het:
# ‘n Malawiese burger is in Edenpark, Ekurhuleni, in hegtenis geneem vir die beweerde vervaardiging en verkoop van vervalste dokumente. Die stad se metropolisie en die polisie het ‘n internet-kafee deursoek nadat inligting ontvang is, en houers met vals skoolrapporte, paspoorte, asiel-permitte en mediese sertifikate ontdek. Die verdagtes sal binnekort in Palmridge se Landdroshof verskyn op aanklag van bedrog en immigrasie-oortredings.
# Die Stad Kaapstad bied ‘n beloning van tot 100-duisend-rand aan vir inligting oor die vandalisme by die Swartklippad pompstasie in Tafelsig. Misdadigers het toerusting vernietig nadat onwettige elektriese verbindings ontkoppel is, wat die pompe onbruikbaar gelaat het. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê duisende inwoners van Mitchells Plain loop die gevaar van riooloorstromings:
# Russiese olie-verskaffing aan Hongarye en Slowakye kan vir minstens vyf dae opgeskort word na ‘n Oekraïnse aanval op ‘n olie-aanleg in Rusland. Oekraïne en Rusland het wedersydse aanvalle op mekaar se infrastruktuur verskerp, onder meer op Oekraïnse huishoudelike verhittingsvoorraad en Rusland se Druzhba-pypleiding, terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, ‘n skietstaking probeer bemiddel. Slowakye en Hongarye, lede van die Europese Unie, behou steeds bande met die Russiese president, Vladimir Putin, en is gekant teen sanksies teen sy land. Hulle staan ook die uitfasering van Russiese energie-voorraad deur die pypleiding teen.
# En rugby: Die Boland Kavaliers het ‘n oortuigende oorwinning in die Curriebeker-kompetisie behaal deur van ‘n 23-punte agterstand terug te veg om die Pumas met 29-26 op die Mbombela-stadion in Nelspruit te klop. Hawies Fourie en sy manne het vier uit hul vyf ligawedstryde gewen, met die enigste nederlaag teen die Griekwas in die tweede ronde in Kimberley. Die oorwinning laat Boland opskuif na 21 punte op die punteleer om die eerste span te word wie se plek in die uitspeelrondes verseker is, met nog twee wedstryde om te speel.
Die Haaie het gisteraand die Westelike Provinsie met 29-21 in hul Curriebeker-botsing in Durban geklop. Beide spanne het gesukkel om momentum op te bou, en die telbord het leeg gebly tot die 20ste minuut, toe die Westelike Provinsie voordeel benut het om die eerste drie te druk. Die Haaie het vier drieë gedruk teen die Westelike Provinsie se drie. Na vyf wedstryde en slegs een oorwinning is die Haaie nou sewende op die punteleer met ses punte, en die Westelike Provinsie onderaan met een punt.
Die Cheetahs en die Leeus ontmoet mekaar vanmiddag om twee-uur en môremiddag om drie-uur speel die Bulle teen die Griekwas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….