Nuus 16:00
BULLETIN 22 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy sê die vragspoorhervorming wil spoorvolumes teen 2029 verhoog
# Leerders van ‘n skool in Noordwes is geskors vir ontwrigting en die aanranding van ‘n onderwyser
# En krieket: Suid-Afrika beklink die eendagreeks teen Australië met ‘n klinkende oorwinning in Macay
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die regering se vragspoorhervormingsprogram is daarop gemik om die hoeveelheid goedere wat per spoor vervoer word, teen 2029 tot 250-miljoen-ton te verhoog. Creecy het op ‘n nuuskonferensie gesê die hervormings sluit in om Transnet se spoornetwerk oop te stel vir privaat operateurs, die verbetering van doeltreffendheid, om beleggings van tot 100-miljard-rand te lok, om infrastruktuur op te knap vir werkskepping en om die ekonomie te laat groei:
# Noordwes se LUR vir Onderwys, Viola Motsumi, het die swak dissipline van leerders van die Hoër Tegniese Skool in Klerksdorp ten sterkste veroordeel. ‘n Woordvoerder van die departement, Mphata Molokwane, sê ‘n groep leerders in oorpakke en klapmusse het die skool se kleedkamers ingevaar en die onderwys- en leeromgewing ontwrig. Hy sê ‘n onderwyser het dadelik reageer en na die kleedkamers gegaan en die leerders probeer oorreed om na hul klaskamers terug te keer:
Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, herinner ouers en voogde intussen om teen 29 Augustus aansoek te doen vir plasings vir Graad 1 en 8, met ondersteunende dokumente wat teen 12-uur die middag op 9 September ingedien moet word. Chiloane wys daarop dat alle dokumente, insluitend identiteitsdokumente, geboortesertifikate, bewys van adres en skoolrapporte, gewaarmerk moet wees. Hy het bevestig dat onvolledige of vervalsde aansoeke nie vir plasing oorweeg sal word nie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Voedselsekerheids-liggaam gesteun deur die Verenigde Nasies sê hongersnood is die eerste keer bevestig in Gaza-stad en omstreke. Die Integrated Acute Food Security body, IPC, sê meer as ‘n half-miljoen mense ondervind hongersnood, armoede en dood wat na verwagting volgende maand na omliggende dorpe sal uitbrei. Israel se Ministerie van Buitelandse Sake het die verslag verwerp en sê daar is geen hongersnood in Gaza nie. Die hoof van die VN, António Guterres, het die krisis as ‘n mensgemaakte ramp beskryf en onbeperkte humanitêre toegang tot Gaza gevra.
# Krieket: Suid-Afrika het die reeks van drie eendagwedstryde teen Australië beklink met nog ‘n indrukwekkende oorwinning in die tweede kragmeting in Mackay. Aiden Markram het die loot gewen en besluit om te kolf, en Suid-Afrika is vir 277 uitgeboul na Matthew Breetzke se 88 en Tristan Stubbs se 74. Adam Zampa het drie paaltjies geneem. Australië het sy laaste paaltjie verloor op 193 nadat Lungu Ngidi vyf slagoffers geëis het, wat die Proteas ‘n oorwinning met 83 lopies besorg het. Die laaste wedstryd word Sondag gespeel, ook in Mackay.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-en-4-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….