Nuus 11:00
BULLETIN 22 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig minister De Lille dat sy die geskorste uitvoerende hoof van SA Toerisme beskerm
# Die FW de Klerk-stigting keer terug na die nasionale dialoog
# ‘n Topdiplomaat van die Europese Kommissie sê die Russiese president, Vladimir Putin, kan nie vertrou word nie
# Die DA veroordeel die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se besluit om SA Toerisme se raad te ontbind, maar beweerde onbehoorlike gedrag van die uitvoerende hoof te ignoreer. Die minister was blykbaar ontevrede omdat die raad tugstappe ingestel het teen Nombulelo Guliwe, wat nou geskors is. Dit was weens ‘n voorafbetaling van 4,1-miljoen-rand aan ‘n diensverskaffer vir werk wat nooit gedoen is nie. Haseena Ismail van die DA sê De Lille misbruik haar posisie om ‘n skelm bestuurder te beskerm:
# Die FW de Klerk-stigting, wat een van ses groepe is wat verlede week se nasionale dialoog-konvensie geboikot het, sê hy is steeds ongelukkig met sekere aspekte, maar wil deelneem. Meer as 300 afgevaardigdes uit verskillende sektore het die konvensie bygewoon, wat gefokus het op sake soos maatskaplike samewerking, ekonomiese herstel en bestuurshervorming. Christo van der Rheede van die stigting het die belangrikheid van aktiewe burgery in ‘n demokrasie beklemtoon. Hy sê die stigtings wat die konvensie geboikot het, sal die vooraanstaande groep ontmoet om hul kommer te deel.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy bestudeer die hofbeslissing oor die voorsiening van bestraling en onkologie-dienste aan kankerlyers. Die Gautengse Hooggeregshof het vroeër die week beslis die departement moet ‘n vorige bevel oor radiologie-onkologiedienste nakom hangende die uitslag van sy appèlaansoek. Die hof het in Maart bevind die departement se versuim om ʼn plan te ontwikkel en in te stel om die onkologie-agterstand te hanteer, was onwettig. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê hulle werk aan die agterstand:
Nuus uit die buiteland:
# Die vise-president van die Europese Kommissie, Kaja Kallas, waarsku die Russiese president, Vladimir Putin, kan nie vertrou word om enige belofte of ooreenkoms te eerbiedig nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se spesiale gesant, Steve Witkoff, het vroeër die week bevestig Putin het ingestem om Amerika toe te laat om Oekraïne van ernstige veiligheidswaarborge te voorsien. Kallas het aan die BBC gesê veiligheidswaarborge moet sterk en geloofwaardig wees, en die beste waarborg is ‘n sterk Oekraïense Weermag:
# Rugby: Aphelele Fassi sal môre vir die Springbokke op heelagter uitdraf in die tweede Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Kaapstad. Dit volg nadat Willie le Roux weens ʼn besering onttrek het. Hy sukkel met die besering sedert ʼn oefening vroeër die week en dit het nie betyds herstel nie. Fassi, wat al in 13 toetse gespeel het, was ook verlede week in Johannesburg in die opdrafspan toe die Bokke 38-22 verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-128-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….