Nuus 08:00
BULLETIN 22 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil hê minister Motshekga moet afgedank word oor die Iranse diplomasie-debakel
# Die Konstitusionele Hof het uitspraak voorbehou in die randmanipulasie-saak
# En die Trump-administrasie hersien meer as 55-miljoen Amerikaanse visumhouers vir moontlike oortredings
# Die DA vra die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, moet afgedank word omdat sy die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, verdedig na sy ongemagtigde diplomasie in Iran. Woordvoerder Chris Hattingh sê Motshekga het burgerlike oorsig oor die Weermag ondermyn deur sy wangedrag goed te keur nadat hy politieke bande met Iran beloof het. Hy sê die DA glo die gebeure maak Motshekga ongeskik vir haar posisie en skaad Suid-Afrika se internasionale geloofwaardigheid:
# Die Konstitusionele Hof het uitspraak voorbehou in die Mededingingskommissie se saak teen banke wat beskuldig word dat hulle die rand teen die Amerikaanse dollar gemanipuleer het. Die saak spruit uit bewerings dat 28 plaaslike en internasionale banke saamgespan het om die rand tussen 2007 en 2013 te beïnvloed. Die kommissie vra die hoogste hof om ‘n vorige uitspraak om te keer wat buitelandse banke vrystel van die saak. Makgale Mohlala van die kommissie sê die jurisdiksie is duidelik: Indien optrede die Suid-Afrikaanse ekonomie beïnvloed, moet plaaslike reguleerders optree:
# ActionSA in Gauteng sê hy is bekommerd oor die Emfuleni-munisipaliteit se jongste beroep op die Nasionale Tesourie om weer ʼn deel van sy Eskom-skuld af te skryf. Die munisipaliteit skuld die kragvoorsiener agt-miljard-rand, maar nadat hy vir die skuldverligtingsprogram aansoek gedoen het, het die Tesourie byna twee-miljard afgeskryf. Emfuleni glo hy voldoen aan die Tesourie se vereistes om vir nog ʼn afskrywing te kwalifiseer. ActionSA-woordvoerder, Zwelithini Mtshali, sê die munisipaliteit se fiskale onverantwoordelikheid en bestuursmislukking gaan voort:
# Amerika se Departement van Buitelandse Sake hersien meer as 55-miljoen buitelanders met wettige Amerikaanse visums vir oortredings wat kan lei tot moontlike herroeping of uitsetting. Dit volg nadat die administrasie vroeër die week aangekondig het hy kyk uit vir teen-Amerikaanse sienings, insluitend dié op sosiale media, wanneer hulle aansoeke vir Amerikaanse burgerskap of ander immigrasievoordele oorweeg. Die departement sê hy soek tekens van ongewensdheid, insluitend oorskryding van visums, misdadige aktiwiteite, bedreiging van openbare veiligheid, betrokkenheid by enige terrorisme of ondersteuning aan terroriste-organisasies.
# Gholf: Die Amerikaner Russell Henley het nege onder baansyfer 61 aangeteken om met twee houe voor te loop na die eerste ronde van die Toerkampioenskap in Atlanta. Sy landgenoot en wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler wat probeer om die eerste speler te word wat sy Toerkampioenskap-titel suksesvol verdedig, is tweede op sewe onder. Een hou agter hulle in die derde plek is die Amerikaners, Collin Morikawa, Justin Thomas en Patrick Cantlay, en die Britte, Robert MacIntyre en Tommy Fleetwood. Rory McIlroy van Noord-Ierland is gesamentlik agste op vier onder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-185-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….