Nuus 16:00
BULLETIN 21 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum kritiseer die regering se ontkenning van rasgemotiveerde plaasaanvalle
# Rusland loods die grootste hommeltuig- en missielaanval op Oekraïne in weke
# En rugby: McReight voer die Wallabies aan in Saterdag se toets teen die Bokke in Kaapstad
# AfriForum kritiseer die regering omdat hulle volgens ‘n verslag deur die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, die rasse- en politieke motiverings rakende plaasaanvalle ontken. Die organisasie sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se bewerings dat hierdie aanvalle deel is van algemene misdaad, ignoreer dekades se bewyse. Jacques Broodryk van AfriForum waarsku tot plaasaanvalle as voorkeurmisdade behandel word, sal landelike gemeenskappe bedreig word:
# President Cyril Ramaphosa vra groter belegging in seksuele en reproduktiewe gesondheidsregte, en waarsku teen terugslae wat vroue, kinders en die jeug bedreig. Hy het op die negende Internasionale Beraad oor Afrika-ontwikkeling in Tokio, Japan, beklemtoon dat sterk gesondheidstelsels uiters belangrik is om lewens te red en langtermyn ontwikkeling te ondersteun. Ramaphosa het regerings, skenkers en die privaat sektor aangemoedig om gesondheidsbefondsing te beskerm, toegang tot dienste uit te brei en vernuwend op te tree om kwesbare gemeenskappe te bereik:
# Rusland het 574 hommeltuie en 40 missiele op Oekraïne afgestuur in een van die grootste aanvalle in weke. Oekraïnse beamptes sê een persoon is dood in ‘n aanval op die westelike stad Lviv en 15 mense gewond in die suid-westelike Transkarpatie-streek. Die aanvalle vind plaas terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, diplomatieke stappe lei om die oorlog te beëindig. President Volodimir Zelensky sê Oekraïne is gereed om sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, in ‘n neutrale land soos Switserland, Oostenryk of selfs Turkye te ontmoet.
# Rugby: Die flank Fraser McReight sal Australië aanvoer in Saterdag se Rugbykampioenskapswedstryd teen Suid-Afrika in Kaapstad. Hy neem die leisels oor by die gereelde kaptein, Harry Wilson, wat beseer is nadat hy verlede Saterdag twee drieë gedruk het tydens sy span se ontstellende oorwinning van 38-22 oor die Springbokke in Johannesburg. Rob Valetini sal Wilson op agtsteman vervang in een van drie veranderings weens beserings. Corey Toole sal op linkervleuel begin in die plek van Dylan Pietsch, terwyl Tom Robertson as loskopstut sal sak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-270-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-81-sent per vat.
# En laastens: Die bekende Amerikaanse regter en sosiale media-ster Frank Caprio het in die ouderdom van 88 gesterf nadat hy met pankreaskanker gediagnoseer is. Sy loopbaan in Rhode Island het oor 40-jaar gestrek. Hy het bekendheid verwerf met sy deernis en humor en omdat hy uitsprake kon lewer terwyl hy beskuldigdes se omstandighede in ag geneem het. Video’s van Caprio in sy rol as regter op sy treffer-TV-program, Caught in Providence, is miljarde keer op sosiale media gekyk en het hom die titel van aangenaamste regter ter wêreld besorg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….