Nuus 11:00
BULLETIN 21 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Afrika soek nie hulp nie, maar vennote
# Die hoof van die Weermag het ‘n verslag oor sy reis na Iran aan minister Motshekga voorgelê
# En Ford, Nissan en Citroën herroep voertuie weens verskeie gebreke
# President Cyril Ramaphosa sê die onlangse tariewe wat Amerika op goedere uit Afrika gehef het, het die noodsaaklikheid van uiteenlopende uitvoermarkte gewys. Hy het die negende Internasionale Konferensie oor Ontwikkeling in Afrika in Tokio, Japan, toegespreek. Japan is een van die hoofbeleggers in die Suid-Afrikaanse ekonomie en die bilaterale handel tussen die twee lande was verlede jaar 132-miljard-rand. Ramaphosa sê die Afrika-vryhandelgebied kan ‘n platform wees vanwaar Japanese en ander globale maatskappye na die vasteland kan uitvoer
# Die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, generaal Rudzani Maphwanya, het ‘n verslag oor sy onlangse omstrede besoek aan Iran aan die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, voorgelê. Maphwanya was in die spervuur deur te kenne te gee Suid-Afrika en Iran het gemeenskaplike doelstellings. Hy het ook vir Israel gekritiseer oor sy optrede in Gaza. Die Weermag het die rede vir Maphwanya se besoek verduidelik as bilaterale samesprekings met Iranse militêre leiers oor sake van gemeenskaplike belang. Die inhoud van die samesprekings is vertroulik.
# Daily Maverick het nuwe beeldmateriaal vrygestel van die joernalis Pieter-Louis Myburgh se berugte ontmoeting met die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Sy het teenoor eNCA haar rol in die beweerde omkopery van 60-duisend-rand ontken en beweer dit was ‘n lokval. Malaka hou vol sy het nie die ontmoeting aangevra nie en plaas die skuld op die trust se woordvoerder, Phasha Makgolane. Daily Maverick sê in die nuwe beeldmateriaal bespreek Malaka die omkoop-bedrag en winsgewende tenders in ruil vir Myburgh se stilswye.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê Ford, Nissan en Citroën is besig om verskeie modelle te herroep nadat hulle talle gebreke identifiseer het. Die reuse-motorvervaardiger Ford herroep meer as 20-duisend voertuie in Suider-Afrika weens veiligheidsredes. Dit sluit die Ranger- en Everest-modelle in wat tussen 2021 en vanjaar gebou is. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê Nissan herroep die Qashqai-model wat tussen September 2021 en April verlede jaar verkoop is, weens batteryverbindingsprobleme wat tydens die produksieproses voorgekom het:
# Tennis: Die Italianers Sara Errani en Andrea Vavassori is die tweede agtereenvolgende jaar die Amerikaanse Ope-gemengde dubbelspelkampioene. Hulle het die derde-gekeurde Iga Swiatek en Casper Ruud in ‘n valbylpot verslaan op die Arthur Ashe-stadion in New York. Dit is slegs die vyfde keer dat ‘n gemengde dubbelspelspan agtereenvolgens die Grand Slam-toernooi kon wen, en slegs die tweede keer in vier dekades. Vavassori sê hy het dit geniet om in die herontwerpte gemengde dubbelspelformaat te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-596-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….