Nuus 09:00
BULLETIN 21 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tebogo Malaka se ontkenning van haar rol in die omkooppoging word weerlê
# Die Internasionale Strafhof verwerp nuwe Amerikaanse sanksies teen sy regters en aanklaers
# En rugby: Die Springbok-vroue beoog om die bordjies te verhang teen Brasilië
# Die Daily Maverick het nuwe beeldmateriaal vrygestel van die joernalis Pieter-Louis Myburgh se berugte ontmoeting met die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Malaka het in ‘n onderhoud met eNCA haar rol in die hoogs gepubliseerde beweerde omkopery van 60-duisend-rand ontken en beweer dit was ‘n lokval. Sy erken sy het Myburgh ontmoet, maar hou vol sy het nie die ontmoeting geïnisieer nie, en plaas die skuld op IDT-woordvoerder Phasha Makgolane. Daily Maverick sê in die nuwe beeldmateriaal kan Malaka gehoor word waar sy die kontant-omkopery en meer winsgewende tenders bespreek in ruil vir Myburgh se stilswye.
# Saftu sê hulle stem nie saam met die bewering van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, dat vakbonde se eise vir hoër salarisse pogings om polisievakatures te vul, belemmer nie. Hy het die land se stygende werkloosheidsyfer op vakbonde blameer, wat volgens hom voortdurend meer geld van hul lede eis. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê Mkhwanazi se perspektief hou die risiko in om die publiek se begrip van ‘n veel ernstiger kwessie te verdraai: dekades van neoliberale besuinigings en begrotingsbesnoeiings het die polisiediens uitgehol:
# ActionSA in Johannesburg sê hulle verwerp burgemeester Dada Morero se roekelose besluit om Sithembiso Zungu as burgemeesterskomiteelid vir Groep Korporatiewe en Gedeelde Dienste aan te stel. Hy was na bewering betrokke by drie aangemelde gevalle van konstruksiemafia-aktiwiteite. Marcel Coutriers van ActionSA sê met dié aanstelling het die burgemeester blatante minagting vir goeie bestuur getoon en bevestig dat politieke voordeel, eerder as integriteit, die ANC se riglyne vir aanstellings is:
# Die Internasionale Strafhof het nuwe Amerikaanse sanksies teen sy regters en aanklaers verwerp. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het nuwe sanksies ingestel teen twee regters en twee aanklaers van die hof vir hul pogings om Amerikaanse en Israeliese burgers te vervolg. Die ISH sê die sanksies is ‘n blatante aanval op die onafhanklikheid van ‘n onpartydige geregtelike instelling, wat ingevolge die mandaat van 125 staatspartye uit alle wêrelddele bedryf word. Hy voeg by hy sal onverskrokke voortgaan om sy mandaat te vervul, in ooreenstemming met sy wetlike raamwerk.
# Rugby: Suid-Afrika en Brasilië speel Sondag die heel eerste keer teen mekaar wanneer hulle kragte meet in hulle openingswedstryd van die Vroue-Wêreldbekertoernooi op Franklin’s Garden in Northampton, Engeland. Die Springbokke se veelsydige agterspeler, Nadine Roos, wat vier keer teen Brasilië gespeel het in verlede jaar se Sewes-reeks, sê die span is vasberade om vorige mislukkings te verander. Die span het hulle voorbereiding opgeskerp en Roos beklemtoon spanwerk en om Brasilië se beweegruimte naby die bal te beperk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-976-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….