Nuus 08:00
BULLETIN 21 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die ontbinding van die SA Toerismeraad
# Twee-en-twintig hoërskoolleerders word geskors na gewelddadige onderonsies in Roodepoort
# En atletiek: Simbine en Sekgodiso stel teleur by die Diamantliga-byeenkoms in Lausanne
# Die Parlement se gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel het die besluit van die minister van Toerisme, Patricia de Lille, verwelkom om die SA Toerismeraad onmiddellik te ontbind. Volgens die minister het die raad sy magte oorskry deur ‘n raadslid aan te stel om sommige van die funksies van die vorige voorsitter, professor Gregory Davids, wat in Julie bedank het, uit te voer. Sy het dit as onwettig beskryf. Die komiteevoorsitter, Sonja Boshoff, sê dat wanneer sulke besluite geneem word, moet dit altyd gemik wees op die verbetering van bestuur binne regeringsinstellings.
# Solidariteit sê adjunkpresident Paul Mashatile se jongste verdediging van swartbemagtiging is totaal verwyderd van die werklikheid van wat swartbemagtiging is en doen. Mashatile het die land se transformasiebeleid in antwoord op ‘n parlementêre vraag verdedig en verklaar dat die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging nie diskriminerende wetgewing is nie. Solidariteit se Theuns du Buisson sê Mashatile is oneerlik oor die ware doelwitte van transformasiewetgewing:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het bevestig dat 19 leerders van die West Ridge High School en drie van Hoërskool Roodepoort geskors is. Dit volg na leerders van die twee skole verlede Vrydag en weer Maandag in gewelddadige onderonsies betrokke was, waartydens drie leerlinge beseer is en die skoolhoof van Hoërskool Roodepoort met ‘n mes gesteek is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê tugstappe stappe sal teen die leerders gedoen word:
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het nuwe sanksies teen vier amptenare van die Internasionale Strafhof aangekondig, insluitend twee regters en twee aanklaers. Die departement beweer die amptenare was instrumenteel in pogings om Amerikaners en Israeliete te vervolg. Enige bates wat die amptenare in Amerikaanse jurisdiksies hou, is nou gevries. Dié strafmaatreëls is gemik op regters Kimberly Prost en Nicolas Guillou, sowel as die aanklaers Nazhat Shameem Khan en Mame Mandiaye Niang. Guillou het toesig gehou oor ‘n voorverhoorpaneel wat die lasbrief vir die inhegtenisneming van die Israeliese premier Benjamin Netanyahu uitgereik het.
# Atletiek: Oblique Seville van Jamaika het goud in die mans 100-meter by die Diamantliga-byeenkoms in Lausanne, Switserland verower. Sy tyd was ‘n indrukwekkende 9,87 sekondes. Die Olimpiese kampioen, Amerikaner Noah Lyles, was tweede, met die Jamaikaan Ackeem Blake en Akani Simbine van Suid-Afrika onderskeidelik derde en vierde. Keely Hodgkinson van Engeland het die vroue 800-meter in ‘n byeenkomsrekord van een-minuut, 55,69-sekondes afgelê, terwyl Suid-Afrika se Prudence Sekgodiso sesde geëindig het. Die Amerikaner Josh Hoey het die mans 800-meter in een-minuut 42,82 sekondes gewen, voor Kenia se Olimpiese kampioen Emmanuel Wanyonyi en Mohamed Attaoui van Spanje.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-277-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….