Nuus 06:00
BULLETIN 21 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking stel die feite oor die Amerikaanse Menseregteverslag
# Die minister van Vervoer sê die Prasa-loonooreenkoms met Satawu en Untu is afdwingbaar
# En Checkers toets ‘n nuwe slim trollie wat betalings aanvaar
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê Suid-Afrika se buitelandse beleid word gelei deur ‘n verbintenis tot ‘n reëlgebaseerde internasionale stelsel, gegrond op respek vir menseregte. Die departement het sy aanvanklike verklaring opgedateer in reaksie op die Amerikaanse Menseregteverslag. Die verslag het belangrike menseregtekwessies uitgelig, insluitend moorde, arbitrêre arrestasies en die onderdrukking van rasse-minderhede. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê alle vorme van misdaad word hanteer ongeag ras of ligging:
# Die Polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê stygende misdaad word vererger deur beperkte personeel, wat te midde van bevolkingsgroei, steeds tans op ongeveer 19-duisend staan. Mkhwanazi verbind begrotingsbeperkings en arbeidswette met minder werknemers en vra alternatiewe maatreëls, soos kameras en patrollievoertuie om die veiligheid te handhaaf. Hy vra gemeenskappe om beamptes aanspreeklik te hou, met die klem op dissipline en prestasie en waarsku die polisie word deur die publiek in diens geneem en lewenslange poste word nie gewaarborg nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die loonooreenkoms wat die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika met sy twee grootste vakbonde, Satawu en Untu, onderteken het, is afdwingbaar. Dit volg nadat Prasa as gevolg van finansiële beperkings geweier het om te voldoen aan ‘n ondertekende ooreenkoms van ‘n loonverhoging van 5,5 persent. Die ooreenkoms tree teen die einde van hierdie maand in werking. Beide vakbonde dreig met regstappe. Creecy het aan Business Day gesê die probleem is Prasa se bedryfstekort, dus moet hierdie saak moontlik deur die howe besleg word.
# Israel het ‘n groot nedersettingsprojek goedgekeur in ‘n gebied van die besette Wesoewer wat die internasionale gemeenskap gewaarsku het die lewensvatbaarheid van ‘n toekomstige Palestynse staat kan bedreig. Israel wou reeds ‘n geruime tyd bou op die ongeveer 12-vierkante-kilometer stuk grond, bekend as E1 net oos van Jerusalem, maar die plan is jare lank teruggehou as gevolg van internasionale teenstand. Kritici sê die nedersetting sal die Wesoewer in twee verdeel, wat die hoop ondermyn van ‘n Palestynse staat met ‘n aaneenlopende grens en oos-Jerusalem as hoofstad.
# Krieket: Die Proteas se wegbreek-draaibouler, Prenelan Subrayen, is aangekla van ‘n verdagte boulaksie in Dinsdag se eerste eendagwedstryd teen Australië in Cairns en sal die res van die reeks misloop. Die Internasionale Krieketraad sê die wedstrydbeamptes het hulle bekommernis uitgespreek oor die wettigheid van sy boulaksie. Die kragmeting was Subrayen se eerste eendag-internasionale wedstryd. Hy het tien boulbeurte afgestuur en die paaltjie van Travis Head ingepalm. Subrayen sal ‘n onafhanklike beoordeling ondergaan by ‘n instelling wat deur die Internasionale Krieketraad geakkrediteer is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-236-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die kleinhandelreus Checkers het ‘n nuwe slim inkopietrollie bekendgestel waarmee kopers hulle kruideniersware regstreeks kan skandeer en betaal sonder om by tradisionele betaalpunte te wag. Die vernuwing, wat tans getoets word, sal wagtye verkort en meer gerieflik wees. Klante kan kaarte of digitale beursies gebruik deur middel van die trollies se ingeboude stelsel. Checkers sê die stap weerspieël sy verbintenis tot die gebruik van tegnologie en die verandering van die koopervaring vir Suid-Afrikaanse verbruikers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….