Nuus 18:00
BULLETIN 20 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Toenemende veldbrande bedreig plase en voedselpryse
# Rugby: Die Bokke begin hulle Europese toer in November met ‘n wedstryd teen Japan op Wembley
# En ‘n geskiedkundige Sweedse kerk word verskuif om plek te maak vir die uitbreiding van ‘n myn
# FNB Landbou se hoof van inligting en bemarking, Dawie Maree, sê die voorkoms van veldbrande in Suid-Afrika neem toe, wat ernstige skade aan plase veroorsaak. Maree het in ‘n onderhoud met Engineering News gesê boere in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, die Vrystaat, die Wes-Kaap, die Karoo en Gauteng het te kampe met vernietigde gewasse, vee, weiding en infrastruktuur, wat beteken produksiekoste styg. Maree vra pro-aktiewe brandbestuur, versekering en samewerking met brandbeskermingsverenigings. Hy waarsku voortdurende veldbrande kan voedselpryse, veral vleispryse, benadeel te midde van stygende inflasie.
# AfriForum het ‘n interne appèl ingedien nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sy aansoek oor die gebruik van privaat sekerheidsdienste by polisiestasies ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ignoreer het. Die organisasie sê vier maande van stilswye veroorsaak ernstige bekommernis terwyl die regering regulasies oorweeg wat die privaat sekerheidsektor kan verswak. Jacques Broodryk van AfriForum waarsku dat die saak na die Inligtingsreguleerder verwys sal word om die polisie te dwing om die inligting te verskaf as hulle nie binne 30-dae reageer nie:
# Die DA sê dat slegs 21-persent van die toelaaghersienings in die Wes-Kaap afgehandel is, wat baie begunstigdes sonder toegang tot maatskaplike bystand laat. Die party sê meer personeel, beter hulpbronne, self-bedieningskiosks, en gedesentraliseerde dienste word benodig om hersienings te versnel en kwesbare burgers te beskerm. Wendy Kaizer-Philander van die DA vra die nasionale Department van Maatskaplike Ontwikkeling om nou saam met provinsiale kantore te werk om tydige toelaaghersienings te verseker:
# Rugby: Die Springbokke begin hulle November-toer in Europa met ‘n geskiedkundige wedstryd teen Japan op die ikoniese Wembley-stadion in Londen op 1 November. Dit sal die eerste rugbywedstryd op die beroemde sokkerveld wees sedert die kragmeting tussen die Bokke en die Barbarians in 2016, wat met 31-elk gelykop geeïndig het. Die Bokke het hulle laaste twee kragmetings met Japan, albei in 2019, gewen na die vernedering in Brighton in 2015 toe die Brave Blossoms Suid-Afrika 34-32 verslaan het in die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-811-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-15-sent per vat.
# En laastens: ‘n Geskiedkundige rooihout-kerk wat beskou word as een van Swede se mooiste geboue is vandag teen ‘n slakkepas uit die Arktiese dorp Kiruna verskuif na sy nuwe staanplek sodat Europa se grootste ondergrondse myn kan uitbrei. Die hele middedorp van Kiruna word hervestig omdat die ysterertsmyn wat steeds dieper word, die grond verswak en die gevaar van ineenstortings verhoog. Die indrukwekkende Sweedse Lutherse kerk van 672-ton is gebou in 1912. Dis vyf kilometer ver verskuif op afstandbeheerde platbaksleepwaens teen ‘n halwe kilometer per uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….