Goeie Nuus
BULLETIN 20 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Johannesburg het met nege plekke opgeskuif in die 2025 UniRank Top 200 Universiteite op Facebook. Die universiteit het geklim van 61ste wêreldwyd in 2024 tot 52ste vanjaar. UJ se digitale platforms het ‘n regstreekse uitbreiding van die universiteit se strategiese plan vir 2035 geword. Die universiteit se bestuurder van Sosiale Media en Bemarkingsprojekte, Michelle Radikariki, sê die styging toon hoe digitale platforms strategies gebruik kan word om invloed uit te brei en bande met gemeenskappe hier en in die buiteland te versterk.
# ‘n Senior dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, Tlou Raphela-Masuku, is gekies om deel te neem aan die gesogte Internasionale Skryf-slypskool oor Klimaatsveranderingsaanpassing, wat deur die British Academy befonds word. Sy is een van slegs 15 vroeë-loopbaan navorsers uit Suider- en Oos-Afrika wat gekies is. Raphela-Masuku fokus op klimaatskwesbaarhede en -veerkragtigheid, veral in landelike en buite-stedelike gemeenskappe. Sy sê haar deelname aan die slypskool steun die doelwit van die universiteit se Afrika-rampbestuuropleidings- en onderwyssentrum om klimaatveerkragtigheid en rampgereedheid oral op die vasteland te bou.
# ‘n Vyf-en-twintigjarige modeontwerper en entrepreneur van Durban, Luyanda Majozi, herdefinieer Suid-Afrikaanse straatdrag deur sy handelsmerk, Enigmatic Cotton. Hy het begin om uitrustings vir homself en vriende te verander en toe tekstielwetenskap en kleretegnologie aan die Durbanse Universiteit van Tegnologie studeer voor hy die handelsmerk gestig het. Majozi het Suid-Afrika verlede jaar op die GISU Global Start-Up-kompetisie in China verteenwoordig, waar hy tweede was in die beginners-kategorie. Hy sê volhoubaarheid is ‘n hoeksteen van Enigmatic Cotton deur herwinning en die gebruik van plaaslik verkrygde materiale.
# Compagniesdrift by Stellenbosch se makataan-konfytstukke is aangewys as Suid-Afrika se heelvrugkonfyt van die jaar in die nuwe Suid-Afrikaanse heelvrugkonfyt-kampioenskap. Sewentig produkte van 29 vervaardigers is in hul onderskeie afdelings erken, met elf kategoriewenners wat uitgeblink het. Die hoofbeoordelaar, Susina Jooste, sê Compagniesdrift se makataan-konfytstukke het indruk gemaak met die wenkombinasie van geur, tekstuur en algehele gehalte. Ander produkwenners sluit in Uit-Die-Bottel-kweperkonfyt, Ritebrand se perske-blatjang en Hemelhuijs-se koemkwat-marmelade.
# En ten slotte: Die Cambridge Dictionary het die afgelope jaar ses-duisend nuwe woorde op sy aanlyn uitgawe bygevoeg. Dit sluit in TikTok-neigings en uitdrukkings op sosiale media soos skibidi, delulu en tradwife. Die woorde het algemene gebruik geword op sosiale en hoofstroommedia en word ook gekoppel aan bekendes en toonaangewers soos Kim Kardashian. Die woordeboek se uitgewery-bestuurder, Wendalyn Nichols, het aan Sky News gesê hulle voeg net woorde by wat in die taal sal staande bly:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….