Nuus 11:00
BULLETIN 20 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwerp die aanstelling van ANC-kaders as SETA-administrateurs
# Die Israelse eerste minister sê sy Australiese ampsgenoot het Israel verraai
# En rugby: ‘n Dubbele beseringsterugslag vir die All Blacks
# Die DA verwerp die minister van Hoër onderwys en Opleiding, Buti Manamela, se aanstelling van administrateurs vir drie sektorale onderwys- en opleidingsowerhede. Sy ingryping volg op ernstige en diepgewortelde bestuursmislukkings by die instellings, insluitend verkrygings-onreëlmatighede, korrupsie, toesig-gebreke en onbestendigheid in die rade. Karabo Khakhau van die DA sê Oupa Nkoane, Lehlohonolo Masoga en Zukile Mvalo is ANC-kaders wat by korrupsie betrek word:
# Die nasionale polisie-kommissaris, Fannie Masemola, het ondersoekbeamptes van die Wes-Kaapse Ernstige Geweldsmisdaad-eenheid ontplooi om die verdagtes betrokke by die wrede aanval op drie parlementslede in Philippi, Kaapstad, op te spoor. Die voorsitter van die Parlement se portefeulje-kommittee oor die Polisie, Ian Cameron, en twee van sy DA-kollegas was gister die slagoffers van ‘n kapingspoging toe hulle ‘n oorsigbesoek aan die polisie se opleidingskollege gebring het. Polisiewoordvoerder Nonkululeko Phokane sê een verdagte is in hegtenis geneem:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die minister van Toerisme, Patricia de Lille, om die Suid-Afrikaanse Toerismeraad te ondersteun na die skorsing van die uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe. Die volg nadat forensiese verslae en verslae deur die ouditeur-generaal bestuursoortredings gevind het met ‘n betaling van vier-miljoen-rand aan ‘n diensverskaffer vir die mislukte Dubai-ekspo tydens die Covid-19-pandemie. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, moedig De Lille aan om dringend ‘n nuwe voorsitter aan te stel om aanspreeklikheid te verseker en die belastingbetaler se geld te beskerm.
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het sy Australiese ampsgenoot, Anthony Albanese, van verraad beskuldig vir die erkenning van die Palestynse staat. Dit volg op die kansellasie van die ver-regse Israelse politikus, Simcha Rothman, se Australiese visum. Hy sou die land Maandag besoek om te praat op ‘n geleentheid wat die Australies-Joodse Vereniging gereël het. Netanyahu sê Albanese is ‘n swak politikus wat Australiese Jode in die steek gelaat het. Die Australiese minister van Immigrasie, Tony Burke, sê hulle verwerp Netanyahu se opruiende kritiek.
# Rugby: Nieu-Seeland sal Argentinië Saterdag sonder Patrick Tuipulotu en Anton Lienert-Brown pak in hul tweede Rugbykampioenskapswedstryd in Buenos Aires. Tuipulotu het verlede naweek ‘n gesigbesering opgedoen toe die All Blacks 41-24 gewen het. Die veteraan van 56 toetse sal na verwagting sowat ses weke buite aksie wees. Lienert-Brown het ‘n hou teen die kop gekry en volg die harsingskudding-protokol. Afrigter Scott Robertson erken die verlies aan die twee ervare spelers is ‘n terugslag vir sy span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-714-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….