Nuus 07:00
BULLETIN 20 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile doen ‘n beroep op die versterking van interregeringsverhoudings
# Die Parlement verwelkom die ondersoek na spookonderwysers
# En Gemengde Gevegskuns: Du Plessis sal nie nou weer teen Chimaev veg nie
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die doeltreffendheid van plaaslike regering het ‘n regstreekse uitwerking op die lewensgehalte van burgers en hul vermoë om toegang tot noodsaaklikhede te verkry. Hy het gister ‘n werksbesoek aan die Amampondo-koninkryk in die Oos-Kaap afgelê. Mashatile sê die bekendstelling van die Distriksontwikkelingsmodel is daarop gemik om die funksionering van munisipaliteite te verbeter en ook kwessies rakende gemeenskapsdienslewering aan te spreek. Hy voeg by dat dit noodsaaklik is om interregeringsverhoudinge te versterk deur samewerking te bevorder om te verseker dat alle vlakke van regering saamwerk tot voordeel van alle gemeenskappe.
# Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad is besig om te onderhandel met die ambassade van die VSA en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging om verligting te kry van die onlangs ingestelde 30-persent tariewe op Rooibos-uitvoere. Rooibos, wat slegs in die Wes-Kaap gekweek word, word meesal in grootmaat na die VSA verskeep vir vermenging, verpakking en bemarking, wat dan daar werksgeleenthede skep. Die voorsitter van die raad, Dawie de Villiers, sê die beskerming van produsente en uitvoerders bly hulle belangrikste prioriteit:
# Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie verwelkom die Onderwys Arbeidsverhoudingeraad se ondersoek na spookonderwysers en die verkoop van onderwysposte. Die raad word ondersteun deur vakbonde en onderwysdepartemente en sal landwyd ‘n verifikasieproses van opvoeders en leerders uitvoer, met uitslae wat teen Oktober verwag word. Die voorsitter, Jan de Villiers, sê spookwerkers dreineer hulpbronne en ondermyn die onderwysproses. Hy vra verantwoordbaarheid, meer toesig en hervormings om die publiek se vertroue in regeringsdienste te herstel.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die stigting van gespesialiseerde skole om kritieke vaardigheidstekorte aan te spreek deur onderwys te belyn met die provinsie se ekonomiese groeiprioriteite is noodsaaklik. Hy het Dinsdag ‘n uit-diens-gestelde Embraer 135-passasiersvliegtuig amptelik oorhandig, wat deur Airlink aan die Rhodesfield Engineering School of Specialisation in Kempton Park geskenk is. Lesufi sê met slegs ses-duisend vliegtuigonderhoudsingenieurs in Suid-Afrika, en slegs een-duisend-700 wat Afrikane is, is inisiatiewe soos dié noodsaaklik vir die transformasie van geleenthede en die versekering van inklusiwiteit in die sektor:
# Die president van die Europese Raad, António Costa, sê die Europese Unie is verenig en onwrikbaar in sy steun vir Oekraïne, sowel as sy verbintenis om druk op Rusland voort te sit. Die EU het verlede maand sy 18de pakket van sanksies teen Moskou aanvaar, wat die instelling van ‘n invoerverbod insluit op geraffineerde petroleum wat van Russiese ru-olie gemaak word. Costa sê die topprioriteite is om die doodslag te stop, die uitruil van gevangenes te bevorder en die terugkeer van die duisende kinders wat deur Rusland ontvoer is, te verseker.
# Gemengde Gevegskuns: Die verslaande Suid-Afrikaanse middelgewig UFC-wêreldkampioen Dricus du Plessis gaan tyd afvat om te besin oor Sondag se geveg teen Khamzat Chimaev. Die Rus het sy 15de professionele oorwinning behaal toe hy Du Plessis met ‘n eenparige beslissing in Chicago oordonder het. Volgens Du Plessis se hoofafrigter, Morné Visser, stel hy nie in ‘n dadelike herontmoeting belang nie, aangesien hulle eers ‘n paar dinge moet regstel. Hy sê wanneer jy op so ‘n manier ore aangesit word, verdien jy nie ‘n onmiddellike herontmoeting nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-679-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….