Nuus 18:00
BULLETIN 19 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudregter Khampepe sê haar kommissie se ondersoek dui op hernude toewyding aan die waarheid, geregtigheid en versoening
# Switserland sal immuniteit aan Putin toestaan as hy ‘n vredesberaad oor Oekraïne wil bywoon
# En rugby: Die All Blacks se afrigter verwag die Bokke gaan terugkeer na hulle DNS na die nederlaag op Ellispark
# Die oudregter van die Konstitusionele Hof, Sisi Khampepe, sê die nuwe regterlike kommissie van ondersoek na beweerde inmenging in waarheid- en versoeningsake dui op ‘n hernude toewyding aan die waarheid, geregtigheid en versoening. Khampepe het by die Hector Pietersen-gedenkteken in Soweto, Gauteng, die paneel voorgestel wat haar bystaan. Dit sluit in die afgetrede regterpresident Frans Diale Kgomo en advokaat Andrea Gabriel. Khampepe sê die kommissie sal ondersoek instel na die pogings wat aangewend is om ondersoeke of die vervolging van misdade uit die apartheid-era te stop:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad het ‘n omvattende plan in werking gestel om die taxi-bedryf meer professioneel te maak en misdadige elemente uit te skakel. Dit fokus op die formalisering van operateurs, verbeterde opleiding, die ingebruikneming van kontantlose betalings, en sterker veiligheidsmaatreëls. Santaco se president, Abnar Tsebe, sê hulle gaan met die regering, wetstoepassing en gemeenskappe saamwerk om dissipline te verseker, pendelaars te beskerm en openbare vertroue in die sektor te herstel:
# Die immigrasievermoë van die Kaapstadse Internasionale Lughawe sal bykans verdubbel met die vennootskap van die Grensbestuursowerheid, die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad. Die vennootskap, wat deur die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, premier Alan Winde en burgemeester Geordin Hill-Lewis bekendgestel is, voeg 48 assistent-doeanebeamptes by, wat personeellede van 66 tot 114 vermeerder. Dit sal grensdoeltreffendheid verbeter, toerisme bevorder en nasionale sekerheid versterk met plaaslike werkskepping en gladder prosesse.
Nuus uit die buiteland:
# Switserland sal die Russiese president, Vladimir Putin, immuniteit toestaan as hy aan vredesonderhandelings oor Oekraïne wil deelneem, ondanks die Internasionale Strafhof se lasbrief vir sy inhegtenisneming. Die minister van Buitelandse Sake, Ignazio Cassis, sê Putin sal wel toegelaat word. Die Franse president, Emmanuel Macron, het verwys na ‘n moontlike vredesberaad tussen Putin en sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, wat in ‘n neutrale land soos Switserland gehou kan word. Cassis sê Switserland is ten volle voorbereid vir so ‘n geleentheid weens sy jarelange militêr-neutrale kundigheid op die gebied.
# Rugby: Die hoofafrigter van die All Blacks, Scott Robertson, verwag dat die Springbokke na hulle DNS sal terugkeer na die naweek se vernederende nederlaag in die Rugbykampioenskapswedstryd teen die Wallabies op Ellispark. Hy dink die wêreldkampioen sal na sy gewone sterkpunte terugkeer met fisiese oorheersing en taktiese skoppe na die mislukte proefneming om wyd te hardloop met die bal in die hand. Robertson sê Nieu-Seeland sal nie sy benadering verander wanneer die Bokke hulle volgende maand vir twee toetse besoek nie, nadat hulle Argentinië oortuigend verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-667-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….