Nuus 15:00
BULLETIN 19 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die aanpassing van die inflasieteiken na drie-persent sal ekonomiese vooruitsigte hervorm
# Die mededingingskommissie identifiseer agt onderwerpe in die randmanipulasie-saak
# En Quantas word met ‘n rekordbedrag beboet oor die aflegging van personeellede tydens die pandemie
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte is daarvan afhanklik dat die regering en die Suid-Afrikaanse Reserwebank saamwerk aan ‘n nuwe inflasieteiken van drie-persent. Die buro waarsku egter in sy jongste verslag streng staatsbesteding en hoë rentekoerse vertraag die groei, met die bruto binnelandse produk wat na verwagting vanjaar minder as een-persent sal groei. Die buro sê ‘n vroeë ooreenkoms oor die teiken kan die groei tot twee-persent verhoog, maar swak samewerking sal inflasie hoog hou, ekonomiese stagnasie verleng en werkloosheid vererger.
# Die regsverteenwoordiger vir die Mededingingskommissie, Tembeka Ngcukaitobi, het agt belangrike onderwerpe uiteengesit in die voortgesette randmanipulasie-saak. Die saak ondersoek steeds beweerde samespanning deur 13 banke met die bepaling van die rand-dollar-wisselkoers tussen 2007 en 2013. Ngcukaitobi sê hulle sal agt kwessies aanpak, insluitend ‘n enkele oorkoepelende oortreding, tribunale jurisdiksie, ekonomiese bewyse, die gesag van handelaars en die beweerde nie-nakoming van ‘n bevel deur die Mededingingsappèlhof:
# ActionSA se leier Herman Mashaba het die dood van ‘n vierjarige meisie van Eldoradopark, Nikita, wat na bewering deur haar pa mishandel is, beskryf as ‘n afgryslike voorbeeld van die geslagsgeweldkrisis. Albei ouers het gister hul borgtogaansoeke laat vaar. Mashaba het tydens die begrafnis in Johannesburg gewaarsku dat die land sonder etiese leierskap en dringende optrede in gevaar verkeer om meer kinders weens mishandeling te verloor. Hy bepleit verenigde optrede om die pandemie uit te wis:
Nuus uit die buiteland:
# Die lugrederyreus Qantas is in ‘n Australiese hof met meer as ‘n miljard-rand beboet vir die onwettige afdanking van ongeveer een-duisend-800 werknemers tydens die Covid-19-pandemie. Die boete is die grootste wat ‘n hof opgelê het vir ‘n oortreding van arbeidsverhoudingswette in die land se geskiedenis. Regter Michael Lee het in sy uitspraak gesê hy wil hê die boete moet dien as afskrikmiddel vir ander werkgewers. Die lugredery het ingestem om die boete te betaal en sê die uitspraak hou hom aanspreeklik vir optrede wat werklike skade aan sy werknemers veroorsaak het.
# Sokker: Kaartjies vir die tweede wedstryd in die MTN8-halfeindronde tussen Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates is uitverkoop. Dit begin Saterdagmiddag drie-uur op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Die eerste wedstryd het een-elk gelykop geeïndig nadat Sundowns die vroeë voorloper was na ‘n doel van Teboho Mokoena, voordat Kamogelo Sebelebele die gelykmaker vir Pirates aangeteken het. Albei spanne speel môre liga-kragmetings voor die groot wedstryd. Die wenner speel in die eindstryd teen Sekhukhune of Stellenbosch.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-655-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….