Goeie Nuus
BULLETIN 19 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die immigrasievermoë van die Kaapstadse Internasionale Lughawe sal bykans verdubbel met die vennootskap van die Grensbestuursowerheid, die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad. Die vennootskap, wat deur die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, premier Alan Winde, en burgemeester Geordin Hill-Lewis bekendgestel is, voeg 48 assistent-doeanebeamptes by, wat personeellede van 66 tot 114 vermeerder. Dit sal grensdoeltreffendheid verbeter, toerisme bevorder en nasionale sekerheid versterk met plaaslike werkskepping en gladder prosesse.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, oorhandig vandag amptelik ‘n uitgediende Embraer 135-passasiersvliegtuig aan die Rhodesfield Ingenieurswese-skool vir Lugvaartspesialisering in Kemptonpark. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die vliegtuig, wat deur Airlink geskenk is, sal vir opleiding gebruik word vir leerders wat lugvaartstudies wil volg:
# Twee studentespanne van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het eerste en vierde uit 40 gekom op die toonaangewende Cars4Mars African Rover-uitdaging. Die kompetisie wil Afrika-jeug besiel om loopbane in robotika, ruimtetegnologie en kunsmatige intelligensie te volg. Jongmense uit Suid-Afrika, Zimbabwe, Nigerië, Kenia en Ghana het deelgeneem. Die TUT-spanne wat uit tweede- en derdejaarstudente bestaan, het gevorderde mobiele robotte gebou wat krag van ingeboude batterye kry en draadloos beheer word. Die eindronde vind volgende maand in Johannesburg plaas.
# ‘n Wêreldleier in tegnologie, HCL Technologies, sê hy is trots op sy groeiende vennootskap met die Noordwes Universiteit waardeur hy toegang en geleenthede vir gestremde studente bied. HCLTech het sedert verlede jaar ‘n miljoen-rand toegeken vir beurse en ‘n bykomende 250-duisend-rand vir hulpmiddels en opgradering van sagteware vir die Eenheid vir Regte vir Gestremdes. Dit bring die somtotaal op 1,25-miljoen-rand te staan. HCLTech sê sy visie is meer as net beurse. Dis ook om geleenthede vir werkverskaffing te skep en in die lang termyn te bemagtig.
# En ten slotte: Dame Helen Mirren sê al is sy ‘n uitgesproke feminis, moet James Bond deur ‘n man gespeel word. Die Oscar-bekroonde aktrise het in ‘n onderhoud met Saga Magazine gesê ‘n vroulike James Bond sal nie werk nie. Amazon MGM Studios sal die volgende weergawe van die spioenasie-franchise vervaardig, met Steven Knight wat die 26ste rolprent in die reeks skryf. Die 80-jarige Mirren speel tans teenoor ‘n voormalige James Bond-akteur, Pierce Brosnan, in die rolprent-weergawe van The Thursday Murder Club.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….