Nuus 14:00
BULLETIN 19 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Future Forex eis swaar boetes in randmanipulasiesaak
# Macron noem Putin “die monster by die poort”
# En motorsport: Piastri gaan vereer word op volgende jaar se Australiese Grand Prix
# Future Forex het gevra vir swaar boetes vir banke wat skuldig bevind word in die randmanipulering-sage om toekomstige valuta-manipulering te voorkom. Die Mededingingskommissie appelleer in die Konstitusionele Hof teen die uitspraak van die Mededingingsappèlhof oor 13 banke wat daarvan beskuldig word dat hulle tussen 2007 en 2013 die rand-dollar-wisselkoers gemanipuleer het. Die uitvoerende hoof, Harry Scherzer, het aan Newzroom Afrika gesê swaar strawwe sal as ‘n afskrikmiddel dien vir toekomstige randmanipulering:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy waarsku die regering reeds lank teen die aanstelling van Kubaanse dokters in Suid-Afrika, veral in die lig van die land se groot aantal werklose mediese beroepspersone. Suid-Afrika is reeds sedert 1996 gasheer vir Kubaanse dokters volgens die Mandela-Castro-samewerkingsooreenkoms. Amerika beplan om Brasiliaanse, Afrika- en Karibiese staatsamptenare se visums te herroep as hulle die Kubaanse regering toelaat om dokters na hul lande te stuur. Philip van Staden van die party sê die regering moet meer plaaslike dokters aanstel:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, het Europese bondgenote gewaarsku om nie die Russiese president, Vladimir Putin, te vertrou nie en noem hom “die monster by die poort”. Dit volg terwyl Putin en sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, blykbaar gereed is vir ‘n vredesberaad nadat gister se gesprekke tussen die Amerikaanse president, Donald Trump, en Europese leiers gefokus het op die sleutelkwessie van langtermyn-veiligheidswaarborge vir Kiëf. Macron sê Putin kom selde sy beloftes na, is voortdurend ‘n mag vir destabilisering en probeer om sy mag te vergroot deur grense te verskuif.
# Motorsport: McLaren se Australiese Formule Een-bestuurder, Oscar Piastri, sal in die eerste wedren van die nuwe seisoen vereer word wanneer ‘n pawiljoen in sy geboortestad, Melbourne, na hom vernoem word. Piastri loop tans voor in die kampioenskap en mag moontlik in Maart terugkeer as wêreldkampioen. Hy het vanjaar reeds ses wedrenne gewen – meer as enige ander Australiese renjaer in ‘n enkele seisoen sedert die wêreldkampioenskap in 1950 begin het. Piastri sê hy kan nie wag om te sien hoe alles volgende jaar bymekaar kom nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-579-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-344-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-51-sent per vat.
# En laastens, die Ministerie in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede het bevestig dat minister Sindisiwe Chikunga gesond en op die herstelpad is ná ‘n gesondheidsprobleem tydens gister se Y20-vergadering in Ekurhuleni. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê Chikunga is aangeraai om verlof te neem om te rus en te herstel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….