Eko-minuut 13:30
BULLETIN 19 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Ses vermeende lede van ‘n internasionale sindikaat wat met renosterhoring smokkel is vanoggend in Sunnyside, Pretoria, in hegtenis geneem. Die vyf mans tussen die ouderdom van 49- en 84-jaar en die 60-jarige vrou het hulle aan die Valke oorgegee. Die volg na ‘n langdurige ondersoek na oorgrens-handeldryf met renosterhoring sedert 2017. Beweerde bedrieglike permitte het 964 renosterhorings vir onwettige uitvoer na Suidoos-Asië geteiken. Die ses sal na verwagting in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal, rampokkery en geldwassery.
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê daar is ‘n dringende behoefte aan Afrika-geleide wetenskaplike navorsing en klimaatstrategieë. Volgens die 2023-verslag van die Wêreld-weerkundige Organisasie verloor Afrikalande twee- tot vyf-persent van hul bruto binnelandse produk aan klimaatsverandering terwyl sommige lande tot nege-persent van hul begroting aanwend vir reaksie op die klimaat. Nzimande sê die drieledige krisis van klimaatsverandering, besoedeling en verlies aan bioverskeidenheid vereis weldeurdagte optrede.
# En ten slotte: Spanje het nog 500 soldate ontplooi om veldbrande te bestry wat onder snikhete omstandighede deur die land versprei. Dit bring die aantal soldate op een-duisend-900 te staan. ‘n Deel van die beroemde Camino de Santiago-pelgrimsroete is gister gesluit terwyl die brande na die suidelike hange van die Picos de Europa-bergreeks versprei het. Nederland het twee waterstortingsvliegtuie ontplooi wat aansluit by dié uit Frankryk en Italië wat reeds die Spaanse owerhede bystaan. Brandbestryders uit ander lande sal na verwagting binne die volgende paar dae aankom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….