Nuus 13:00
BULLETIN 19 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie appelleer teen die randmanipulasie-saak in die Konstitusionele Hof
# ‘n Seun van Noorweë se kroonprinses word aangekla van verkragting
# En tennis: Die nuutontwerpte gemengde dubbelstoernooi van die Amerikaanse Ope begin vandag in New York
# Die Mededingingskommissie appelleer in die Konstitusionele Hof teen die uitspraak van die Mededingingsappèlhof rakende die randmanipulasie-saak. Die saak, wat van vandag tot Vrydag aangehoor word, sal poog om die aanklagte te laat herleef teen 13 banke wat beskuldig word van die manipulering van die rand-dollar-wisselkoers tussen 2007 en 2013. Aanklagte is teruggetrek teen die meeste van die 28 banke wat aanvanklik aangekla is, insluitend Suid-Afrikaanse banke. Die kommissie voer aan die banke moet op die bewerings antwoord en bevraagteken jurisdiksie oor buitelandse ondernemings.
# Die Activists and Citizens Forum sê president Cyril Ramaphosa moet persoonlik verantwoordelik gehou word van die verkwisting van belastingbetalers se geld op die nasionale konvensie wat verlede week in Pretoria gehou is. ‘n Bedrag van 450-miljoen-rand is vir die proses bewillig, waarvan 20-miljoen-rand reeds gebruik is vir die eerste byeenkoms. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die geleentheid was ‘n vermorsing van geld aangesien geen besliste oplossings gevind is nie en dit net dieselfde ou praatjies was:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy waarsku die regering reeds lank teen die aanstelling van Kubaanse dokters in Suid-Afrika, veral in die lig van die land se groot aantal werklose mediese beroepslui. Suid-Afrika is reeds sedert 1996 gasheer vir Kubaanse dokters ingevolge die Mandela-Castro-samewerkingsooreenkoms. Amerika beplan om Brasiliaanse, Afrika- en Karibiese staatsamptenare se visums te herroep as hulle die Kubaanse regering toelaat om dokters na hul lande te stuur. Philip van Staden van die party sê die regering moet meer plaaslike dokters aanstel:
# ‘n Seun van Noorweë se kroonprinses is aangekla van 32 oortredings, insluitend vier van verkragting en verskeie van geweldpleging en aanranding. Marius Borg Hoiby is gebore uit ‘n verhouding voor kroonprinses Mette-Marit met kroonprins Haakon getroud is. Hy word ondersoek sedert hy in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem is omdat hy glo sy vriendin aangerand het. Daar is ook aanklagte van huishoudelike geweld teenoor ‘n gewese meisie en verskeie van geweld, rusversteuring, opsetlike beskadiging en skending van ‘n inperkingsbevel teen nog ‘n gewese vriendin.
# Tennis: Die nuutontwerpte gemengde dubbelstoernooi van die Amerikaanse word vandag en môre op Flushing Meadows in New York gespeel, met die hooftoernooi wat Sondag begin. Bekende name neem vanjaar deel, onder andere die Spanjaard, Carlos Alcaraz, wat saam met die Brit Emma Raducanu speel en Iga Swiatek van Pole saam met Casper Ruud van Swede. Die veteraan Venus Williams en haar Amerikaanse landgenoot, Reilly Opelka, speel saam. Die wenners ontvang 17,6-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-472-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….