Nuus 11:00
BULLETIN 19 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die nasionale konvensie was niks meer as ’n poppekas nie
# Numsa en die Departement van Handel en Nywerheid soek ‘n strategiese vennoot vir die Goodyear-fabriek
# En krieket: Rabada is beseer en gaan die eendagreeks teen Australië misloop
# ActionSA sê die nasionale konvensie was net verhoogbestuurde praatjies, swaar aan retoriek maar met geen oplossings nie. Die tweedaagse konvensie is bygewoon deur die burgerlike gemeenskap, arbeid, sake, geloofsgroepe en gemeenskapsorganisasies om te beplan hoe die volgende fase van die nasionale dialoog in die volgende jaar sal verloop. Matthew George van ActionSA sê president Cyril Ramaphosa se swak en oninspirerende opmerkings het van die begin af die gees bepaal vir ‘n klomp klagtes onder die dekmantel van ‘n nasionale vernuwingsprojek:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die landbousektor wys merkwaardige groei en veerkragtigheid ondanks internasionale handelsdruk. Nuwe data wat die Landbou-sakekamer bekend gemaak het, wys landbou-uitvoere na Amerika het in die tweede kwartaal van vanjaar met 26-persent gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Die ministerie se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê dit wys duidelik hoe dringend dit is om die gesprek met Amerika oor tariewe voort te sit:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy voer samesprekings met die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging om strategiese vennote te kry om die Goodyear SA fabriek in die Oos-Kaap oor te neem. Die bande-vervaardiger in Kariega het sy deure verlede Vrydag gesluit met ‘n gevolglike 900 werkverliese. Die woordvoerder van Numsa, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle het daarin geslaag om ‘n verbeterde pakket vir werkers as deel van die afdankingsproses te beding:
Nuus uit die buiteland:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê ‘n skietstilstand is ʼn noodsaaklike voorwaarde vir onderhandelinge om die oorlog tussen Oekraïne en Rusland te beëindig. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër gesê dis nie nodig nie omdat ʼn vredesooreenkoms uitgewerk kan word al is die oorlog aan die gang. Trump het gister met sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, en Europese leiers in die Withuis vergader. Macron sê Amerika se verbintenis om sekerheidswaarborge vir Oekraïne te ontwikkel is die belangrikste uitkoms:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sal weens ‘n besering nie in die drie eendagwedstryde teen Australië speel nie. Die 30-jarige het inflammasie in sy regter-enkel. Hy sal in Australië bly en behandeling ondergaan by die span se mediese personeel. Australië se kaptein, Mitch Marsh, het vanoggend die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen in die eerste kragmeting in Cairns. Dewald Brevis speel sy eerste eendagwedstryd vir die Proteas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-942-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….