Nuus 09:00
BULLETIN 19 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê die landbousektor oorwin die woelinge in wêreldhandel
# Zelensky sê hy is gereed om met Putin te praat
# En tennis: Alcaraz en Swiatek is die Cincinnati Ope-kampioene
# Die Minister van Landbou John Steenhuisen sê die landbousektor wys merkwaardige groei en veerkragtigheid ten spyte van wêreldwye wind van voor. Nuwe data wat die Landbou Sakekamer bekend gemaak het, wys landbou-uitvoer na Amerika het in die tweede kwartaal vanjaar met 26-persent gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Die woordvoerder van die ministerie, Joylene van Wyk, sê dit wys duidelik hoe dringend dit is om die gesprek met Amerika oor tariewe voort te sit:
# Die ANC sê hy gaan tugstappe doen teen sy senior lede, Malusi Gigaba en Senzo Mchunu, ná hul onlangse opmerkings. Gigaba het in ‘n onderhoud wat in die Sunday Times verskyn het, gesê die party se nasionale uitvoerende komitee het nie sy doelwitte bereik nie. Die geskorste minister van Polisie, Mchunu, het die naweek in KwaZulu-Natal gesê die ANC is op die rand van ineenstorting. Die party sê Gigaba en Mchunu se optrede is ʼn blatante skending van die ANC se interne kommunikasie-protokolle en ondermyn die beweging se basiese dissipline.
# Kaapstad se direktoraat van Water en Sanitasie het 94,1-persent kapitale besteding van 3,741-miljard-rand vir die 2024/2025 boekjaar gehad. Dit is die grootste munisipale waterinfrastruktuur belegging in Afrika. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê Kaapstad se belegging is aansienlik groter as die van ander stede, met die metro se kapitale begroting wat 91,2-persent groter is as die van Johannesburg is en oor die afgelope drie jaar 116,9-persent groter as diè van eThekwini:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê hy is gereed vir ʼn bilaterale ontmoeting met president Vladimir Putin van Rusland om die oorlog te beëindig. Zelensky en sewe ander Europese leiers het gister in die Withuis met president Donald Trump vergader. Die ontmoeting volg na Trump en Putin se beraad Vrydag in Alaska. Zelensky sê hulle het goeie gesprekke gehad oor sensitiewe kwessies, wat veiligheidwaarborge insluit:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee van Spanje, Carlos Alcaraz, het sy eerste Cincinnati Ope gewen nadat die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, na slegs 23 minute aan die eindstryd moes onttrek. Die Italianer was 5-0 agter toe hy ʼn dokter ontbied het, maar hy kon nie voortgaan nie. In die vroueafdeling het die Wimbledon-kampioen, Iga Swiatek, met die Italianer, Jasmine Paolini, afgereken en haar eerste Cincinnati Ope-titel gebuit. Sy is die eerste Poolse speler in die Ope-era wat ʼn enkelspeltitel by die geleentheid wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-907-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….