Nuus 07:00
BULLETIN 19 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê die regering van nasionale eenheid moet herskik word
# Klagtes oor digitale bankbedrog styg met 73-persent
# En rugby: Makazole Mapimpi word opgeroep vir die Bok-groep
# RISE Mzansi sê die regering van nasionale eenheid moet herskik word eerder as om van krisis tot krisis te strompel terwyl die land self in ‘n krisis is. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het verlede maand besluit om die koalisieregering te vergroot om meer partye in te sluit om die regering se doeltreffendheid te verbeter. RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê ʼn RNE-lekgotla is nodig om interpersoonlike kwessies uit te klaar wat moet uitloop op ʼn ware koalisieooreenkoms:
# Die Nasionale Finansiële Ombudskema het ‘n toename van 73-persent in klagtes rakende digitale bankbedrog aangeteken, met ‘n styging van een-duisend-436 gevalle vroeg in 2024 tot twee-duisend-483 vanjaar. Die regulerende beoordelaar, Johan Brouwer, het in gesprek met eNCA gesê die algemeenste taktiek is uitvissing, met bedrieërs wat kliënte mislei om hul besonderhede te bekend te maak. Daar is onlangs 500-duisend-rand met virtuele kaarte gesteel, nadat ‘n kliënt ‘n slagoffer geword het. Hy waarsku al is virtuele kaarte veiliger, maak kwesbare persoonlike inligting hierdie soort bedrog moontlik:
# Gauteng se LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê hulle werk aan ʼn provinsiale e-taxi-platform waarvoor alle betrokkenes aanspreeklikheid sal aanvaar. Die LUR het gister met die Maponya-winkelsentrum se bestuur en wetstoepassers in Soweto vergader. Dit volg nadat geweld Woensdag naby die winkelsentrum uitgebreek het, en een persoon dood en twee ander beseer is. Diale-Tlabela sê die Gauteng-gebaseerde e-taxi-toepassing sal pendelaars se veiligheid verseker:
# Amnestie Internasionaal beskuldig Israel dat hy die afgelope 22 maande doelbewus ʼn beleid van verhongering in Gaza toepas. Die groep se jongste verslag sluit getuienisse in van burgerlikes wat na bewering verhonger en verplaas is. Volgens berigte was daar sedert Oktober 2023 227 sterftes weens hongersnood in Gaza waarvan 103 kinders is. Amnestie Internasionaal beweer die hongersnood en siektes is nie ʼn newe-effek van Israel se militêre bedrywighede nie. Hy sê dis die doelbewuste gevolg van Israel se planne en beleide teen Palestyne in Gaza.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die ervare Springbok-vleuel, Makazole Mapimpi, opgeroep in aanloop tot hul tweede Rugbykampioenskap-wedstryd teen Australië Saterdag in Kaapstad. Kaptein Siya Kolisi en Kurt-Lee Arendse is op die kantlyn nadat hulle in Saterdag se skok-nederlaag van 38-22 teen die Wallabies beseer is. Hulle sal na verwagting vir ʼn paar weke buite aksie wees. Ten spyte van genoeg losvoorspelers in die groep, het Erasmus besluit om Mapimpi, met 47 toetse op sy naam, as agterlyn-dekking op te roep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-92-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-332-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Dame Helen Mirren sê al is sy ‘n uitgesproke feminis, moet James Bond deur ‘n man gespeel word. Die Oscar-bekroonde aktrise het in ‘n onderhoud met Saga Magazine gesê ‘n vroulike James Bond sal nie werk nie. Amazon MGM Studios sal die volgende weergawe van die spioenasie-franchise vervaardig, met Steven Knight wat die 26ste rolprent in die reeks skryf. Die 80-jarige Mirren speel tans teenoor ‘n voormalige James Bond-akteur, Pierce Brosnan, in die rolprent-weergawe van The Thursday Murder Club.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….