Nuus 06:00
BULLETIN 19 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor die vertraging in die afhandeling van die verwysingsraamwerk vir die ad hoc-komitee
# Hamas het volgens berigte ingestem tot die jongste skietstilstandvoorstel vir Gaza
# En rugby: Die Wallabies verwag ‘n groot aanslag van die Bokke in Kaapstad
# Die DA sê hy is bekommerd oor die voortdurende vertragings in die afhandeling van die opdrag vir die Parlement se ad hoc-komitee, wat die bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, moet ondersoek. Die komitee het gister vergader om die voorgestelde opdrag verder te bespreek, met alle partye wat hul standpunte ingedien het. Ian Cameron van die DA sê hulle het die ANC se poging om die Parlement se prokureurs in plaas van onafhanklikes te gebruik, en dat die voorsitter uitsluitlike beheer oor ondervraging het, teengestaan:
# COSATU het die goeie ondersteuning die afgelope naweek tydens die nasionale dialoogkonvensie, geloof. Die konvensie is bygewoon deur meer as ‘n duisend afgevaardigdes van 200 organisasies. COSATU sê hoewel bekommernisse aangespreek moet word, kan dit nie die dialoog vertraag nie. Die vakbond beklemtoon die behoefte aan dringende oplossings vir werkloosheid, armoede, misdaad en mislukte openbare dienste. Die federasie belowe om alle belanghebbendes aanspreeklik te hou om werklike, tasbare verandering vir werkers en die samelewing te verseker.
# Die Portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid in die Gautengse Provinsiale Wetgewer verwelkom die besluit van twee beskuldigdes in ‘n Eldoradopark-moordsaak om hul borgtogaansoek in die Protea-landdroshof te laat vaar. Die twee staan tereg op aanklagte van moord, verkragting en die mishandeling van ‘n vierjarige kind. Die kind word vandag begrawe. Die voorsitter, Bandile Masuku, beklemtoon hul vrylating sal gemeenskapsveiligheid bedreig:
# Hamas het volgens berigte bemiddelaars in kennis gestel dat hulle die jongste skietstilstandvoorstel in Gaza goedkeur. Egipte, Katar en die VSA tree sedert die begin van die oorlog in Gaza as bemiddelaars op tussen Israel en Hamas. Altesaam 62-duisend Palestyne het reeds omgekom. Volgens berigte sal die ooreenkoms ‘n opskorting van militêre operasies vir 60 dae insluit, en Hamas se vrylating in twee fases van ongeveer die helfte van die 50 oorblywende Israelse gyselaars, waarvan 20 glo nog leef. Gedurende hierdie tyd sal daar onderhandelinge oor ‘n permanente skietstilstand wees.
# Rugby: Australië verwag ‘n reuse-aanslag van Suid-Afrika in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Kaapstad nadat hulle die Springbokke in Johannesburg verneder het. Die tuisspan het ‘n voorsprong van 22-nul verkwis en uiteindelik 38-22 verloor – die eerste oorwinning vir die Wallabies op Ellispark sedert 1963. Die Australiese slot Will Skelton sê die Bokke sal probeer om hulle tromp-op te loop en hulle moet gereed wees. Hy het ook gesê die oorwinning in die laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus het hulle broodnodige selfvertroue gegee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-580-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Die immigrasievermoë by Kaapstad se Internasionale Lughawe sal bykans verdubbel met die vennootskap van die Grensbestuursowerheid, die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad. Die inisiatief, wat deur die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, die provinsiale premier, Alan Winde, en burgemeester Geordin Hill-Lewis bekendgestel is, voeg 48 assistent-doanebeamptes by, wat personeel van 66 tot 114 verhoog, en grensdoeltreffendheid verbeter, toerisme bevorder en nasionale sekerheid versterk met plaaslike werkskepping en gladder prosesse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….