Nuus 16:00
BULLETIN 18 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika verhoog druk op MTN oor transaksies met Iran en Afganistan in die verlede
# Krieket: Maphaka word ingesluit in die Protea-groep vir die eendagreeks teen Australië
# En Suid-Afrikaners word gevra vir benoemings vir die nasionale ordes
# ‘n Grootjurie van die Amerikaanse Departement van Justisie ondersoek MTN oor sy vorige bedrywighede in Iran en Afganistan. News24 berig die ondersoek volg op Amerikaanse siviele regsgedinge waarin die onderneming beskuldig word dat hy beskermingsgeld aan die Taliban en al-Kaeda betaal het, hoewel MTN die bewerings ontken. Die uitvoerende hoof van die selfoonoperateur, Ralph Mupita, sê die groep word nie beskuldig van ‘n oortreding nie, maar werk ten volle saam en moet homself verdedig teen nalatenskaps-eise, insluitend ‘n regsgeding van Turkcell oor Iran se eerste privaat selfoonlisensie.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê 65-persent van voertuie in die plaaslike mark word ingevoer sonder enige plaaslike inhoud. Hoofsekretaris Irvin Jim vra die regering om buitelandse handelsmerke te verplig om plaaslike aanlegte te vestig en Suid-Afrikaanse werkers in diens te neem. Hy het ook strenger voorwaardes gevra en nie ‘n geskarrel om verlore uitvoermarkte te vervang nie, insluitend die Amerikaanse uitvoermark van vier-miljard-rand:
# Die Munisipale Afbakeningsraad het ná ‘n landwye raadplegings- en navorsingsproses besluit om geen munisipale grense te verander nie. Die besluit raak 13 gevalle in 18 munisipaliteite, insluitend Ventersdorp, Tlokwe, Qwaqwa, Mjindi en Naledi. Sekere gemeenskappe beplan hofstappe, maar die uitvoerende hoof Manye Moroka het gewaarsku dit kan die afbakening van wyke voor 2026 se verkiesing vertraag. Hy het aan SABC News gesê ‘n voorgestelde wetsontwerp kan binnekort ‘n appèlmeganisme instel:
# Krieket: Die snelbouler Kwena Maphaka is in die Proteas se groep ingesluit vir die reeks van drie eendagwedstryde teen Australië. Die 19-jarige was indrukwekkend in die T20-wedstryde teen die Aussies toe hy nege paaltjies platgetrek het – die meeste in die reeks wat die gasheer 2-1 gewen het. Australië verwelkom intussen die ervare kolwer, Marnus Labuschagne, terug in die groep nadat hy vir die onlangse toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande weggelaat is. Die eerste eendagwedstryd word môre in Cairns gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-150-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Die Presidensie het Suid-Afrikaners versoek om vooruitstaande burgers en uitsonderlike buitelandse burgers te benoem vir nasionale ordes. Hierdie hoogste toekennings erken noemenswaardige bydraes op gebiede soos demokrasie, menseregte, die kunste, wetenskap, sake en dapper dade. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê benoemings vir die orde van Mapungubwe, Kremetart, Luthuli, Ikhamanga, Metgeselle van OR Tambo en Mendi sluit op 31 Augustus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….