Nuus 13:00
BULLETIN 18 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlementêre ad hoc-komitee oor Mkhwanazi se korrupsie-bewerings vergader weer
# Die polisie ondersoek die moord op drie mense in Muizenberg, Kaapstad
# En rugby: Die All Blacks vervang die Springbokke bo-aan die wêreldranglys
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van polisiekorrupsie deur die KwaZulu-Natalse kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek, ontmoet vandag weer om ‘n verwysingsraamwerk te aanvaar. Parlementslede kon verlede week nie oor ‘n finale konsep saamstem nie. Die ondersoek sal beweerde inmenging in wetstoepassing bewyk, insluitend deur die geskorste minister, Senzo Mchunu. Mkhwanazi is as ‘n sleutelgetuie geroep, met openbare deelname wat ‘n belangrike deel van die proses is. Wanneer die raamwerk aanvaar is, sal verhore in Johannesburg begin.
# Die Kaapstadse polisie het ‘n ondersoek begin nadat drie liggame met skietwonde Saterdagaand in Muizenberg gevind is. Die liggame van die man en twee vroue tussen 29- en 32-jaar is in Mike Place, Xakabantu, aangetref. Die voorval hou na bewering verband met die vrylating van ‘n berugte bendelid uit die tronk. Die polisiewoordvoerder, Andrè Traut, sê ‘n man het die skietery oorleef. Hy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê ouers van leerders het tot middernag vannag om aansoek te doen vir ‘n skool-oorplasing vir die 2026-skooljaar. Woordvoerder Bronagh Hammond sê dit geld vir leerders wat reeds skool bywoon in graad 2 tot 7 en graad 9 tot 12. Sy sê oorplasingsaansoeke kan ook gedoen word by die betrokke skool waarheen die ouer of versorger die kind wil oorplaas, of die betrokke distrikskantoor:
# Rugby: Nieu-Seeland is die eerste keer in vier jaar weer boaan die wêreldranglys nadat hy Suid-Afrika vervang het. Dit volg op die All Blacks se oorwinning van 41-24 oor Argentinië in die eerste ronde van die Rugbykampioenskap. Die Springbokke het na derde plek teruggesak na hulle vernederende nederlaag van 38-22 teen Australië nadat hulle vroeg 22-0 voorgeloop het. Ierland is tweede, Frankryk vierde en Engeland vyfde. Die All Black se afrigter, Scott Robertson, sê die ranglys wys hoe taai toetsrugby is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-795-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-85-sent per vat.
# En laastens, meer as 260 aandenkings van die bekroonde Britse reeks Downton Abbey gaan opgeveil word. Dit sluit in van die Grantham-familie se motor tot die trourok wat Michelle Dockery as Lady Mary vir haar eerste troue met Matthew Crawley gedra het, en die ikoniese Downton Abbey-klokkemuur. Die reeks se uitvoerende vervaardiger, Gareth Neame, sê hierdie ikoniese items is vir kykers baie spesiaal. Die opbrengs van die veiling is ten bate van ‘n liefdadigheidsorganisasie wat kinders met beperkte lewensomstandighede en hul ouers ondersteun, Together for Short Lives.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….