Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met hartseer rugbynuus: Nieu-Seeland is die eerste keer in vier jaar weer boaan die wêreldranglys nadat hy Suid-Afrika vervang het. Dit volg op die All Blacks se oorwinning van 41-24 oor Argentinië in die eerste ronde van die Rugbykampioenskap. Die Springbokke het na derde plek teruggesak na hulle vernederende nederlaag van 38-22 teen Australië nadat hulle vroeg 22-0 voorgeloop het. Ierland is tweede, Frankryk vierde en Engeland vyfde. Die All Black se afrigter, Scott Robertson, sê die ranglys wys hoe taai toetsrugby is:
Die Boland Kavaliers het intussen ‘n rustyd-agterstand van 12-7 ingehaal om ‘n bonuspuntoorwinning van 28-20 oor die Bulle te behaal in hul Curriebekerwedstryd in Wellington. Die gashere het die besoekers met vier drieë teenoor drie oortref, terwyl ses geel kaarte in die wedstryd uitgedeel is. Hierdie oorwinning verseker dat Boland sy plek in die top vier van die kompetisie verstewig en op koers bly vir die halfeindronde. Boland kom volgende teen Pumas te staan, terwyl die Bulle na Loftus Versfeld terugkeer vir ‘n wedstryd teen Griekwas.
# Krieket: Die snelbouler Kwena Maphaka is in die Proteas se groep ingesluit vir die reeks van drie eendagwedstryde teen Australië. Die 19-jarige was indrukwekkend in die T20-wedstryde teen die Aussies toe hy nege paaltjies platgetrek het – die meeste in die reeks wat die gasheer 2-1 gewen het. Australië verwelkom intussen die ervare kolwer, Marnus Labuschagne, terug in die groep nadat hy vir die onlangse toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande weggelaat is. Die eerste eendagwedstryd word môre in Cairns gespeel.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Herman Loubser het sy tweede Sonskyntoer-titel opgeraap toe hy die Origins of Golf in die Vrystaat gewen het. Hy het sy landgenoot, Yurav Premlall, op die eerste putjie van ‘n uitspeelronde geklop. Die twee was gelykop met agt onder baansyfer na hulle onderskeie laaste rondes van 69 en 72. Die Suid-Afrikaners Pieter Moolman en George Coetzee, en Joe Long van Engeland was gesamentlik derde op ses onder. Loubser sê hy is tevrede met sy prestasie:
# En tennis: Die wêreld-nommer-drie, Iga Swiatek van Pole, kom teen die Italianer, Jasmine Paolini, te staan in die Cincinnati Ope se eindstryd. Swiatek, die heersende Wimbledon-kampioen, het Elena Rybakina van Kazakstan maklik geklop terwyl Paolini met die Rus, Veronika Kudermetova, afgereken het. Swiatek het al vyf haar vorige wedstryde teen Paolini gewen, insluitend verlede jaar se Franse Ope. In die mansafdeling kom die wêreld se twee beste spelers teen mekaar te staan: die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, teen die Spanjaard Carlos Alcaraz.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….