Nuus 12:00
BULLETIN 18 August 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BLSA sê die hoë werkloosheidsyfer vererger die ongelykheid en ondermyn die maatskaplike samehang
# Die Gautengse LUR vir Vervoer vergader weer met die openbare vervoeroperateurs in Soweto
# En tennis: Swiatek en Paolini pak mekaar in die eindstryd in Cincinnati
# Business Leadership South Africa sê die land se werkloosheidsyfer van 32,9-persent weerspieël ‘n ekonomie wat versmoor onder strukturele ondoeltreffendheid, wat wel herstel kan word met dringende hervormings. Die organisasie het verlede week sy Reform Tracker bekendgestel wat die regering se instelling van belangrike ekonomiese, bestuurs- en strafreghervorming monitor. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief die werkloosheidskrisis vereis dringende optrede om bestendigheid en vooruitgang te bewaar. Sy sê die hoë werkloosheidskoers veroorsaak ongelykheid, ondermyn maatskaplike samehang en vernietig vertroue in demokratiese instellings.
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, vergader vandag weer met openbare vervoeroperateurs in Soweto om blywende oplossings te vind vir probleme wat die sektor raak. Dit volg na hernude geweld waarin een persoon Woensdag by die Maponya-winkelsentrum dood en twee beseer is. Tydens verlede week se vergadering is besluit alle openbare vervoeroperateurs mag toegang kry tot die winkelsentrum en daar bedryf word, en rolspelers het ook saamgestem dat pendelaars se veiligheid belangrik is.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad verwerp intussen berigte dat hy na bewering mense beveel om nie privaat vervoer te gebruik of familielede te vervoer nie, en beskryf dit as vals en misleidend. Dit volg op foto’s en video’s op sosiale media waarin beweer word Santaco-lede teister motoriste en verbied hulle om meer as een passasier in hul voertuig te hê. Santaco se woordvoerder, Rebecca Phala, sê soos alle ander vervoerdienste waarvoor mense betaal, is taxidienste vrywillig en ʼn keuse wat aan pendelaars beskikbaar is:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê ouers van leerders het tot middernag vannag om aansoek te doen vir ‘n skool-oorplasing vir die 2026-skooljaar. Woordvoerder Bronagh Hammond sê dit geld vir leerders wat reeds skool bywoon in graad 2 tot 7 en graad 9 tot 12. Sy sê oorplasingsaansoeke kan ook gedoen word by die betrokke skool waarheen die ouer of versorger die kind wil oorplaas, of die betrokke distrikskantoor:
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Iga Swiatek van Pole, kom teen die Italianer, Jasmine Paolini, te staan in die Cincinnati Ope se eindstryd. Swiatek, die heersende Wimbledon-kampioen, het Elena Rybakina van Kazakstan maklik geklop terwyl Paolini met die Rus, Veronika Kudermetova, afgereken het. Swiatek het al vyf haar vorige wedstryde teen Paolini gewen, insluitend verlede jaar se Franse Ope. In die mansafdeling kom die wêreld se twee beste spelers teen mekaar te staan: die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, teen die Spanjaard Carlos Alcaraz.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-327-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….