Nuus 06:00
BULLETIN 18 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die organiseringskomitee van die konvensie sê die tafel is gedek vir betekenisvolle nasionale betrokkenheid
# Die VSA sê Putin het ingestem tot streng veiligheidswaarborge vir Oekraïne
# En rugby: Die Boland Kavaliers behaal ‘n bonuspunt-oorwinning oor die Bulle in die Curriebeker
# Die organiseringskomitee van die konvensie sê die eerste nasionale konvensie van die nasionale dialoog was burgergedrewe, gefokus, met kragtige betrokkenheid. Meer as duisend afgevaardigdes van meer as 200 organisasies het die tweedaagse konvensie bygewoon wat Vrydag en Saterdag by die Universiteit van Suid-Afrika in Tshwane gehou is. Sleuteltemas vir bespreking het die ekonomie, werkgeleenthede, misdaad en korrupsie, onderwys, gesondheid, en geslagsgeweld en vrouemoord ingesluit. Die organiseringskomitee sê daar sal ‘n ses tot nege maande lange dialoog van nasionale betrokkenheid wees, met ‘n mandaat om op radikale verandering te fokus.
# Die DA sê hy sal voortgaan om verantwoordbaarheid te eis en robuuste ondersoeke te ondersteun na die bedanking van die adjunk-direkteur-generaal vir Eiendomsbestuursdienste in die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, Nyeleti Mthetwa. Macrae Bath van die DA sê dit volg op minister Dean Macpherson se besluit om met ‘n omvattende ondersoek te begin na staatshuurkontrakte en bewerings van wanbestuur waarby die adjunk-direkteur-generaal betrek word. Hy sê Mthetwa het bedank voor ‘n moontlike skorsing:
# Die EFF sê die ANC-regering het misluk om die mense teen armoede en werkloosheid te beskerm, en ook misluk om enige hoop op ekonomiese transformasie te bied. Die party sê die sluiting van die bandvervaardiger Goodyear in Kariega, Oos-Kaap, is nie ‘n geïsoleerde voorval nie, maar deel van ‘n breër ineenstorting van die min nywerhede wat in die land oorbly. Die EFF sê werkers wat jare lank vir Goodyear gewerk het, sukkel om die vereiste afleggingspakkette te bekom, en word na 20 jaar diens bedrae van so laag as 50-duisend-rand aangebied.
# ActionSA in Johannesburg is diep bekommerd oor die aanstelling van raadslid Loyiso Masuku as die nuwe burgemeesterskomiteelid vir Finansies in die stad. ActionSA se woordvoerder, Zwelithini Mtshali, sê gedurende haar ampstermyn as burgemeesterskomiteelid vir Groep Korporatiewe en Gedeelde Dienste, het die stad verkwistende uitgawes van 240-miljard-rand in die 2023/2024-boekjaar aangegaan. Hy sê Masuku het ook versuim om beslissende stappe te doen teen amptenare wat betrokke is by finansiële wanbestuur en bedrog:
# President Donald Trump se spesiale gesant, Steve Witkoff, sê president Vladimir Putin het ingestem om Amerika toe te laat om Oekraïne van streng veiligheidswaarborge te voorsien. Dit is deel van ‘n moontlike vredesooreenkoms wat Vrydag tydens die vergadering tussen Trump en Putin in Alaska bespreek is. Beide leiers het verklaar dat die vergadering produktief was; geen ooreenkoms is egter bereik nie. Witkoff het aan CNN gesê Putin het ook ingestem tot Russiese wetgewende verskansing om nie enige ander gebied, in Oekraïne of elders in Europa, te beset nie:
# Rugby: Die Boland Kavaliers het ‘n 12-7 rustyd-agterstand ingehaal om ‘n 28-20 bonuspuntoorwinning in hul Curriebeker-wedstryd teen die Bulle in Wellington te behaal. Die gashere het die besoekers met vier drieë teenoor drie oortref, terwyl ses geel kaarte in die wedstryd uitgedeel is. Hierdie oorwinning verseker dat Boland hul plek in die top vier van die kompetisie verstewig en op koers bly vir die halfeindronde. Boland kom volgende teen die Pumas te staan, terwyl die Bulle na Loftus Versfeld terugkeer vir ‘n wedstryd teen Griekwas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-605-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….