Nuus 08:00
BULLETIN 17 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nasionale dialoog is ‘n grondliggende stap en bied nie al die antwoorde nie
# Eskom wil die bestendigheid van sy netwerk verder uitbrei
# En sportnuus: die Wallabies klop die Springbokke en Australië wen die T20-reeks teen die Proteas
# Die mede-adjunkvoorsitter van die nasionale dialoogkonvensie, Lindiwe Mazibuko, sê die intreerede van die konvensie was nooit bedoel om al die antwoorde te verskaf nie. Mazibuko het die slottoespraak by die nasionale dialoog in Pretoria gelewer. Sy sê dit is ‘n grondliggende stap om die agenda vir die lang reis wat voorlê te stel. Sy sê dit is ‘n kragtige voorbeeld van inklusiwiteit en die begin van ‘n proses wat in werklikheid aan burgers in elke gemeenskap behoort.
# Die EFF-leier Julius Malema sê dit is nie verbasend dat die ANC weier om geregtigheid te laat geskied vir die families van die Marikana-slagoffers nie. Hy sê daar was geen vervolgings, geen herstelbetalings en geen strukturele verandering in die mynbousektor wat steeds ‘n minderheid verryk ten koste van die menigte nie. Malema sê 34 werkers van Marikana het tevergeefs gesterf omdat hul eise steeds onvervuld is, hul moordenaars nie gestraf is nie en die stelsel wat hulle vermoor het, stewig in die kussings sit:
# Eskom sê hy beplan om môre altesaam vierduisend-151-megawatt se opwekkingsvermoë in diens te herstel, in ‘n poging om netwerk-bestendigheid verder te versterk. Tussen 1 April en 14 Augustus het die onbeplande vermoë-verliesfaktor, wat die persentasie opwekkingsvermoë weerspieël wat weens onbeplande onderbrekings verlore gaan, verder afgeneem tot 28,14-persent. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê met beurtkrag opgeskort en stygende aanvraag word kliënte aangespoor om steeds te help om die kragstelsel te beveilig:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê hy het ingestem om Maandag met die Amerikaanse president Donald Trump in Washington te vergader. Dit volg op Trump se ontmoeting met die Russiese president Vladimir Putin in Alaska Vrydag. Beide leiers sê die vergadering was produktief en daar is vordering gemaak, maar geen ooreenkoms is bereik vir ‘n skietstilstand in Oekraïne nie. Zelensky sê hy ondersteun Trump se voorstel vir ‘n drieledige vergadering tussen die Oekraïne, die VSA en Rusland. Hy het sy bereidwilligheid herbevestig om alles in die stryd te werp om vrede te bewerkstellig.
# En sportnuus:
# Rugby: Die Wallabies het ‘n tweede helfte-vertoning gelewer wat regoor die rugbywêreld weergalm het toe hulle ‘n 62 jaar lange droogte in Johannesburg gebreek het. Die Australiërs het die Springbokke in ‘n opwindende kragmeting met 38-22 geklop in die eerste Rugbykampioenskap-toets op Ellispark. Terwyl die Bokke met rustyd met 22-5 voorgeloop het, het die vasberade Wallabies in die tweede helfte teruggeveg en die Bokke op alle fronte geneutraliseer. Die Bokke het drie drieë gedruk, een deur kaptein Siya Kolisi, terwyl die Aussies vyf drieë gedruk het – een in die eerste helfte en die res in die tweede helfte.
# En krieket: Australië het ‘n oorwinning met twee paaltjies oor die Proteas in die laaste T20-wedstryd in Cairns behaal en die reeks met 2-1 beklink. Glenn Maxwell se onoorwonne 62 het die Australiërs met 173 laat wen ondanks ‘n effense insinking teen die einde. Ondanks ‘n 50-tal deur Dewald Brevis kon Suid-Afrika nie hul totaal verdedig nie en moes hulle knie teen ‘n gedissiplineerde Australiese span in die beslissende wedstryd buig. Die twee spanne is nou gefokus op die eendag-reeks van drie wedstryde wat Dinsdag in Cairns begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….