Nuus 13:00
BULLETIN 16 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Trump-administrasie wil glo nog wit-Afrikaner-vlugtelinge hê
# Eskom sê hulle kon aan die winter se elektrisiteitsaanvraag voldoen
# En Gemengde Gevegskuns: Dricus du Plessis gaan môre sy moeilikste uitdaging in Chicago trotseer
# President Donald Trump se administrasie bespreek na bewering ‘n beperking op die toelating van ongeveer 40-duisend vlugtelinge vir die komende jaar. Sowat 30-duisend plekke sal aan wit Afrikaner-Suid-Afrikaners toegeken word. Trump hou vol dat Afrikaners onderhewig is aan rassediskriminasie en geweld. Die eerste groep van 59 Suid-Afrikaners het in Mei in Amerika aangekom, met slegs nog 34 teen vroeg in Augustus. Die adjunk-perssekretaris van die Withuis, Anna Kelly, sê die beperkings op die toelating van vlugtelinge sal volgende maand bepaal word, en enige syfers wat op hierdie stadium bespreek word, is suiwer spekulasie.
# Eskom sê die kragstelsel is steeds bestendig, wat dit in staat stel om effektief aan die winter-elektrisiteitsvraag te voldoen. Daar is aan meer as 97-persent van die elektrisiteitsaanvraag gedurende die winterseisoen en tot dusver in die finansiële jaar voldoen. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê wanneer stelselbeperkings wel ontstaan, word dit bestuur deur die gefokusde gebruik van noodreserwes gedurende oggend- en aandspitstydperiodes:
# Die vakbondfederasie, Saftu sê die Marikana-slagting was nie ‘n tragiese ongeluk nie, maar ‘n voorbedagte daad van staatsgeweld om kapitaal te beskerm. Vandag is dit 13 jaar sedert die polisie 34 stakende mynwerkers in Marikana, Noordwes, doodgeskiet het. Nog tien mense, insluitend polisie- en veiligheidsbeamptes, is in die weke voor die slagting dood. Asive Dyani van Saftu sê na al die jare later was daar nog geen aanspreeklikheid nie:
# City Power sê hulle het besluit om die herstel van kragtoevoer in sekere gebiede te staak. Dit is totdat hulle kan vasstel dat ten minste 80-persent van kliënte in ‘n spesifieke gebied wettiglik elektrisiteit koop. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê hierdie besluit sal help om die wydverspreide onwettige verbindings en meter-peutery vas te vat. Hy sê kliënte wat onwettig kragbewyse koop, beïnvloed ook die nutsmaatskappy se inkomste negatief:
# Die Wes-Kaap het ekonomiese groeiteikens verlaag te midde van die Amerikaanse tariewe van 30-persent. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, poog om die provinsie se BBP-groeiteiken van vyf-persent teen 2035 tot drie-persent per jaar te verminder. Die provinsie se Groei vir Werkgeleenthede-teiken van duisend-miljard-rand is hersien na 700- tot 800-miljard-rand. Meyer sê voorrang sal gegee word aan werkskepping, energie-sekerheid, infrastruktuur-ontwikkeling en beleggings. Hy beoog ook om 600-duisend werksgeleenthede te skep en uitvoere, navorsing en waagkapitaal binne die volgende dekade te bevorder.
# En gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaanse UFC-middelgewig-wêreldkampioen, Dricus du Plessis, gaan waarskynlik voor sy grootste uitdaging te staan kom in môre se geveg teen die Rus Khamzat Chimaev in Chicago, Amerika. Dit sal “Stillknocks” se derde verdediging van sy titel wees na sy oorwinnings oor die Nigeries-gebore Nieu-Seelander Israel Adesanya en die Amerikaner Sean Strickland. Die Suid-Afrikaner het 23 beroepsgevegte gewen en twee verloor, en die Rus is onoorwonne na 14 beroepsgevegte. UFC 319 begin môreoggend vier-uur en die kragmeting tussen Du Plessis en Chimaev is die hoofgeveg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….