Nuus 16:00
BULLETIN 15 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa noem die nasionale konvensie ‘n bekendstelling van ‘n miljoen gesprekke om Suid-Afrika se toekoms te vorm
# Die DA benoem Cilliers Brink as sy burgemeesterskandidaat vir Tshwane vir 2026
# En ‘n dreigende staking by Air Canada kan derduisende passasiers raak
# President Cyril Ramaphosa noem die eerste nasionale konvensie van die Nasionale Dialoog die bekendstelling van ‘n miljoen gesprekke om Suid-Afrika se toekoms te vorm. Ramaphosa het by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria gesê Suid-Afrikaners is almal seuns en dogters van dieselfde grond ondanks uitdagings en verskille, want Suid-Afrikaners deel ‘n gemeenskaplike verlede en toekoms. Hy beklemtoon oop gesprekke kan verdeeldheid genees, vrese oorwin en die land verenig:
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, het aangekondig dat Cilliers Brink die party se burgemeesterskandidaat in Tshwane gaan wees in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Brink is verlede jaar met ‘n mosie van wantroue uitgedwing. Steenhuisen sê sy rekord bewys dat hy die stad kan omdraai, dienste kan herstel en werksgeleenthede kan skep. Hy het die huidige koalisie gekritiseer oor korrupsie, swak dienslewering en die misbruik van openbare fondse:
Nuus uit die buiteland:
# Air Canada en sy kajuitpersoneel het nog nie tot ‘n vergelyk gekom nie ondanks regeringsversoeke dat albei partye na die onderhandelingstafel moet terugkeer. ‘n Staking kan reis-reëlings vir tien-duisende passasiers ontwrig. Kanada se grootste lugredery verwag om teen die einde van vandag 500 vlugte te kanselleer voor môre se beplande staking wat ongeveer 100-duisend-passasiers laat rondspring om alternatiewe reëlings te tref. Die redery se 10-duisend kajuitpersoneellede wil begin staak indien daar nie voldoen word aan hulle eise vir hoër salarisse en vergoeding vir onbetaalde werk nie.
# Motorsport: Een van McLaren se motors vir volgende jaar se Formule Een-seisoen gaan in Desember opgeveil word, nog voor dit in ‘n wedren gebruik is. Sotheby’s gaan ook die volgende Arrow McLaren Indycar opveil wat in Mei volgende jaar in Indianapolis gaan jaag, asook die uithou-motor wat in 2027 aan Le Mans gaan deelneem. Die koper van die F1-motor kan dit eers in 2028 in besit neem, maar kan intussen een van vanjaar se vertoon-motors huur en ook toegang kry tot die span en sy geleenthede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-921-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Afrika-Unie steun ‘n veldtog om regerings en internasionale organisasies se gebruik van die 16de-eeuse Mercator-wêreldkaart te staak en vra ‘n kaart wat Afrika se grootte meer akkuraat uitbeeld. Die orspronklike kaart, wat vir skeepvaart geskep is, verdraai die groottes van vastelande en vergroot gebiede soos Noord-Amerika en Groenland, terwyl Afrika en Suid-Amerika ingekrimp word. Die adjunkvoorsitter van die AU-kommissie, Selma Haddadi, sê dit skep die indruk dat Afrika onbelangrik is terwyl dit die wêreld se tweede grootste vasteland is met meer as ‘n miljard mense.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….