Nuus 15:00
BULLETIN 15 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bepleit eenheid te midde van uitdagings aan die begin van Nasionale Dialoog
# Rugby: Die Haaie hoop om hulle Curriebeker-veldtog weer op dreef te kry in Kimberley
# En die Afrika-unie vra die aanvaarding van ‘n wêreldkaart wat die vasteland se ware grootte weerspieël
# President Cyril Ramaphosa prys die nasionale konvensie van die Nasionale Dialoog as ‘n geskiedkundige platform om Suid-Afrika se uitdagings openlik en met respek aan te pak. Hy het in sy hooftoespraak by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria gesê geen stem is te klein nie en en eenheid in verskeidenheid moet die nasie lei deur toenemende werkloosheid, armoede, ongelykheid en ‘n vertrouenskrisis. Hy vra aanpassing in ‘n vinnig-veranderende wêreld en sê nasies word gedefinieer deur hulle reaksie op die grootste uitdagings:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het beleggers aangespoor om te help om Afrika se jaarlikse waterbeleggingstekort van 528-miljard-rand te oorbrug. Majodina het tydens die Afrika-Unie se Afrika-Waterbeleggingsberaad in Kaapstad gewaarsku ekonomiese en maatskaplike vooruitgang verkeer in gevaar sonder dringende optrede. Sy het ook onthul Suid-Afrika het 23-miljard-rand vir damprojekte verseker, maar waarsku teen infrastruktuur-sabotasie deur watermafia’s en vra dat skuldiges van verraad aangekla word.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, versoek verpligte opleiding in rasse-sensitiwiteit vir die aanbieders van die Open Chats-potgooi nadat neerhalende opmerkings teenoor bruin mense verontwaardiging veroorsaak het. Sinothando Kama en Mthokozisi Mathebula het die gemeenskap gekoppel aan bloedskending en geestelike onbestendigheid. McKenzie veroordeel die opmerkings as haatspraak, maar sê hy verkies onderrig en wil nie hê die aanbieders moet tronk toe gestuur word of misdaadrekords kry nie:
# Rugby: Die sukkelende Haaie hoop om vanmiddag hulle Curriebekerveldtog weer op dreef te kry te kry wanneer hulle in Kimberley teen Griekwas speel. Die Durbanse span het al drie sy eerste wedstryde verloor en is sewende op die punteleer, net voor Westelike Provinsie, terwyl Griekwas sesde is. Die voorloper op die punteleer, die Pumas, verwelkom die vyfde-geplaasde Leeus môremiddag in Mbombela, terwyl die tweede-geplaasde Cheetahs die WP in Bloemfontein aandurf. Die Boland Kavaliers, derde op die punteleer, speel Sondag in Wellington teen die Bulle, wat vierde is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-en-73-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Die Afrika-Unie steun ‘n veldtog om regerings en internasionale organisasies se gebruik van die 16de-eeuse Mercator-wêreldkaart te staak en vra ‘n kaart wat Afrika se grootte meer akkuraat uitbeeld. Die orspronklike kaart, wat vir skeepvaart geskep is, verdraai die groottes van vastelande en vergroot gebiede soos Noord-Amerika en Groenland, terwyl Afrika en Suid-Amerika ingekrimp word. Die adjunkvoorsitter van die AU-kommissie, Selma Haddadi, sê dit skep die indruk dat Afrika onbelangrik is terwyl dit die wêreld se tweede grootste vasteland is met meer as ‘n miljard mense.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….