Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus moes op die nippertjie ‘n verandering aanbring aan sy span wat Australië môre in hul eerste Rugbykampioenskaps-kragmeting op Ellispark pak. Jan-Hendrik Wessels moes onttrek nadat hy Woensdag tydens oefening ʼn ligte besering opgedoen het, en die stut Boan Venter sal vir hom instaan. Venter, Bongi Mbonambi en Asenathi Ntlabakanye is die voorry-spelers op die bank.
Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, sê intussen hulle hoofdoel op die Wêreldbekertoernooi is om Suid-Afrika trots te maak. Hulle is vol vertroue na die onlangse oortuigende oorwinning oor Nieu-Seeland se Black Ferns-vyftiental. Die Bokke speel in Groep D teen Brasilië, Frankryk en Italië, met die voorste twee spanne wat deurdring na die kwarteindronde. De Bruin sê die toernooi is die grootste geleentheid nog vir die meeste spelers, terwyl onderkaptein Babalwa Latsha glo dit gaan ‘n keerpunt wees in die vrouespel.
# Gholf: Die Mexikaan Luis Carrera gaan probeer om sy derde titel op die Sonskyn-toer te buit in die Vodacom Origins of Golf-toernooi wat vandag in Parys in die Vrystaat afslaan. Die Suid-Afrikaner Jean Hugo keer terug as die gunsteling wat al ʼn rekord van 12 titels gewen het. Die sterk veld sluit Stephen Ferreira van Portugal in wat al 13 keer onder die Sonskyn-toer se toptien klaargemaak en een gewen het, asook die Duitser Allen John en die Suid-Afrikaner Pieter Moolman.
# Motorsport: Red Bull Racing het sy laaste amptelike bande met Christian Horner verbreek en hom verwyder as direkteur van die twee hoofmaatskappye agter sy Formule Een-bedrywighede. Die 51-jarige Horner is verlede maand verwyder uit sy amp as Red Bull se spanhoof en uitvoerende hoof wat sy 20-jaar aan die stuur beëindig. Volgens dokumente wat ingedien is by die amptelike bewaarder van sakerekords in die Verenigde Koninkryk, Companies House, is Horner verwyder van Red Bull Racing en Red Bull Technologies se rade.
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, het maklik deurgedring na die halfeindronde van die Cincinnati Ope met ‘n oorwinning oor Felix Auger-Aliassime van Kanada. Die Italianer sal nou teen die Franse kwalifiseerder Terence Atmane te staan kom wat die Deen Holger Rune verslaan het om sy eerste ATP Meesters-een-duisend halfeindronde te bereik. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Coco Gauff ‘n kwarteindronde-ontmoeting met Jasmine Paolini bespreek nadat sy nog ‘n Italianer, Lucia Bronzetti, verslaan het. Paolini het Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….