Nuus 12:00
BULLETIN 15 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die soektog gaan voort na die vermiste vlieënier na die ongeluk by die lugvertoning in Durban
# Solidariteit eis die onmiddellike afdanking van die Weermag se hoof oor sy reis na Iran
# En die Krugerwildtuin se geliefde wit leeu, Casper, is piekfyn
# Die Nasionale Seereddingsinstituut sê die soektog gaan voort na die vlieënier wat vermis word na gister se vliegongeluk in Durban. Die ligte vliegtuig was deel van ‘n lugvertoning by Noord-strand naby die Suncoast Casino toe dit in die see gestort het. Die 61-jarige vlieënier van Johannesburg was volgens berigte alleen in die vliegtuig. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê hulle het sedert vroeg vanoggend wrakstukke bymekaar gemaak wat oornag uitgespoel het:
# Solidariteit vra president Cyril Ramaphosa om die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, generaal Rudzani Maphwanya, af te dank oor sy omstrede reis na Iran. Maphwanya en die bevelvoerder van die Iranse Leër, generaal-majoor Amir Hatami, het in Teheran hul lande se gedeelde doelwit geprys om wêreldwye arrogansie en aggressiewe koloniale benaderings te bekamp. Maphwanya het ook Israel se bomaanvalle in Gaza veroordeel. Woordvoerder Jaco Kleynhans sê ‘n versterking van bande met Iran bedreig ekonomiese en diplomatieke betrekkinge met die Weste:
# Die FW de Klerk-stigting sê Amerika se verslag oor menseregte in Suid-Afrika moet ‘n wekroep wees vir die regering van nasionale eenheid en die ANC. ‘n Groot deel van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se verslag handel oor die bekragtiging van die Onteieningswet, wat daarop dui dat die menseregte-situasie in die land verswak het. Die stigting sê die kern hiervan is dat die land ʼn ernstige ineenstorting van wet en orde ervaar en dringende stappe moet ingestel word om dit te herstel.
# Rugby: Scott Barrett is terug na ‘n besering om Nieu-Seeland môre aan te voer in die Rugbykampioenskapswedstryd teen Argentinië in Córdoba. Hy sal saam met Fabian Holland op slot begin in een van nege veranderings aan die span wat verlede maand se reeks teen Frankryk in Hamilton afgesluit het. Tupou Vaa’i keer ook terug nadat hy die laaste toets teen die Franse weens ‘n besering misgeloop het. Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, verwag ‘n strawwe kampioenskap:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-129-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-88-sent per vat.
# En laastens: SANParke sê die Kruger-wildtuin se geliefde wit leeu, Casper, is veilig en in ‘n goeie toestand ondanks kommer oor sy gesondheid. Daar was gerugte dat Casper, wat in die omgewing om Satara rondloop, miltsiekte het of dat ‘n slang hom dalk gepik het. Reynold Thakhuli van SANParke sê Casper is opgespoor en ondersoek en die twee moontlikhede is uitgesluit. Hy het wel seerplekke bo sy regteroog en in sy bek wat dit laat lyk of ‘n ander leeu hom waarskynlik gebyt het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….