Nuus 09:00
BULLETIN 15 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy hoop die Trump-Putin-vergadering lei tot vredesonderhandelinge
# Die GOOD-party sê die nasionale dialoog moet aandag skenk aan die jeugwerkloosheidskrisis
# En tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner is deur na die halfeindronde van die Cincinnati Ope
# Die Presidensie sê president Cyril Ramaphosa hoop die vergadering tussen sy ampsgenote van Amerika en Rusland, Donald Trump en Vladimir Putin, sal ‘n proses begin wat tot vredesonderhandelinge lei. Trump en Putin ontmoet vandag in Alaska om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Suid-Afrika bly betrokke by pogings om vrede in Oekraïne te bewerkstellig:
# Die GOOD-party sê hy gaan aan die nasionale dialoog deelneem om werkloosheid onder die jeug te bespreek omdat dit volgens hom maatskaplike bestendigheid bedreig. Die nasionale dialoog se eerste konvensie word vandag en môre in Pretoria gehou. Die party se jeugvoorsitter, Kaden Arguile, sê dit gaan baie meer kos om werkloosheid onder die jeug te ignoreer as om in hul toekoms te belê:
# Build One South Africa doen ʼn beroep op die Departement van Vervoer om dringend die langverwagte regulasies vir die e-taxibedryf af te handel en regulasies vir die minibustaxi-bedryf te moderniseer. Dit volg na ʼn skietvoorval Woensdagaand by die Maponya-winkelsentrum in Pimville, Soweto, toe ʼn e-taxibestuurder dood en twee voertuie aan die brand gesteek is. BOSA in Gauteng se lid van die provinsiale wetgewer, Ayanda Allie, sê albei sektore moet volgens duidelike, toepasbare reëls funksioneer wat voorkeur gee aan pendelaars se veiligheid:
# Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid se Basiese Landbouvooruitsigte vir 2025 tot 2034 wys dat Suid-Afrika se landbousektor oor die laaste twee dekades beter vertoon het as die land se breër ekonomie. Volgens die buro se direkteur, Tracy Davids, word dit hoofsaaklik aangedryf deur hoë-waarde, uitvoergedrewe kommoditeite. Davids sê stagnerende binnelandse inkomste maak uitvoere kritiesbelangrik ten spyte van globale risiko’s. Die projeksie vir die sektor dui ‘n groei van 5,5-persent in 2025 aan, wat deur goeie oeste, belegging in tegnologie, en gunstige weersomstandighede verbeter word. Sy waarsku dat langtermyn vooruitsigte vir groei gedemp bly.
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner het die halfeindronde van die Cincinnati Ope ingeseil met ‘n oorwinning oor Felix Auger-Aliassime van Kanada. Die Italianer sal nou teen die Franse kwalifiseerder Terence Atmane te staan kom wat die Deen Holger Rune verslaan het, om sy eerste ATP Meesters 1000 halfeindronde te bereik. In die vrouetrekking het die Amerikaner Coco Gauff ‘n kwarteindronde ontmoeting met Jasmine Paolini van Italië nadat sy haar landgenoot Lucia Bronzetti verslaan het. Paolini het Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek verbygesteek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-308-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-344-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….