Nuus 17:00
BULLETIN 14 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse diere-welsynsgroepe is gekant teen die uitvoer van lewende hawe per see
# Rugby: Fassi maak Saterdag sy buiging as stelskopper vir die Springbokke
# En die voormalige Springbok-losskakel Dawie Snyman sterf op 76
# Diere-welsynsorganisasies, insluitend Humane World for Animals South Africa en Stop Live Export SA, vra die publiek om nuwe regeringsregulasies teen te staan wat die uitvoer van lewendige diere vir slagdoeleindes toelaat. Hulle waarsku dat die gebruik geweldige lyding veroorsaak en meestal groot kommersiële boere bevoordeel eerder as kleinskaalse produsente. Michelle Taberer van Stop Live Export SA sê die regulasies bevat nie behoorlike dierewelsynswaarborge nie en kan Suid-Afrika se internasionale beeld skaad:
# Die Referendum-party sê die DA se jongste ekonomiese plan kan werk, maar hy glo nie dit sal nasionaal deurgevoer word terwyl die ANC die regering van nasionale eenheid beheer nie. Die plan stel ‘n aantal ononderhandelbare eise vir hervorming wat die ekonomie ‘n hupstoot sal gee en werkgeleenthede sal skep – insluitend die verwydering van wette wat werksgeleenthede versmoor en die herstel van die energiesektor. Partyleier Phil Craig sê dit neem nie die werklikhede van die land in ag nie:
Die DA sê intussen die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur onder minister Dean Macpherson se leierskap lewer uitslae wat fokus op werksgeleenthede, laer lewenskoste en etiese bestuur. Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmag-opname het die bousektor tussen April en Julie 20-duisend werksgeleenthede geskep en 55-duisend oor die afgelope jaar. Edwin Macrae Bath sê die groei in die boubedryf is bewys van die goeie werk wat Macpherson doen:
# Rugby: Die Springbok-heelagter Aphelele Fassi sien uit na die geleentheid om stelskoppe by sy arsenaal te voeg in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Johannesburg. Hy sal moontlik die skop-verantwoordelikhede met die losskakel Manie Libbok deel, wat die enigste ander erkende stelskopper in die groep is. Fassi sê hy oefen nou al geruime tyd hierdie deel van sy spel. Hy verwag ‘n fisieke kragmeting, maar glo dat die Bokke slegs hulle strukture moet handhaaf wanneer hulle met die verdediging van hulle titel op Ellispark begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-395-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-12-sent per vat.
# En ons sluit af met hartseer nuus: Die voormalige Springbok-speler en afrigter van Westelike Provinsie, Dawie Snyman, is in die ouderdom van 76 jaar dood. News24 berig Snyman, wat tussen 1972 en ’77 tien toetse vir Suid-Afrika gespeel het, is verlede maand met leukemie gediagnoseer. Hy word onthou vir die reeksoorwinning oor die All Blacks in 1976 en vyf agtereenvolgende Curriebeker-titels vir WP vanaf 1982 tot ’86. Rugby loop diep in Snyman se familie, met sy broer Jackie wat ook ‘n oud-Springbok is en sy broerskind Dawie wat tans die Stormers se hulpafrigter is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….