Nuus 14:00
BULLETIN 14 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke SA sê kleinhandelverkope styg met 1,6% in Junie
# Rugby: Kremer beskryf die All Blacks as die sport se weergawe van Argentinië se wêreldkampioen-sokkerspan
# En Sylvester Stallone en KISS is onder diegene wat deur die Kennedy-sentrum vereer word
# Statistieke Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in Junie op ‘n jaarkoers met 1,6-persent gestyg, hoofsaaklik aangevuur deur sterk verkope in tekstiele, klere, skoeisel, leergoedere, ysterware, verf en glas. Raquel Floris van Statistieke SA sê op ‘n kwartaallikse basis het seisoensaangepaste verkope met 0,9-persent gestyg, terwyl voedsel-, drank- en tabakkleinhandelaars die grootste daling van 2,3-persent aangeteken het:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die motorvervaardigingsektor se belangrike bydrae tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk geprys. Hy het op die Onderdele- en Verwante Vervaardigers-skou in Gqeberha in die Oos-Kaap die regering se steun vir binnelandse onderdele-vervaardiging herbevestig, met meer as 80-duisend mense in diens. Mashatile het geleenthede uiteengesit, insluitend ‘n potensiële hupstoot van 30-miljard-rand deur verhoogde plaaslike verkryging en om 130 nuwe swart nyweraars in te bring:
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat ondersoek instel na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings, vergader vandag om sy verwysingsraamwerk te oorweeg. Die komitee is gestig om bewerings van politieke inmenging in misdaadbestrydingspogings te ondersoek, maar moet eers die omvang van die werk uiteensit voor hy voortgaan. Die Parlement sê die proses is daarop gemik om deursigtigheid, billikheid en nakoming van behoorlike prosesse te verseker wanneer hierdie bewerings bekyk word.
# Rugby: Die Argentynse losvoorspeler Marcos Kremer dink die All Blacks is die sport se weergawe van sy land se Wêreldbekerkampioen-sokkerspan. Die twee lande speel die naweek in Cordoba in die eerste ronde van die Rugbykampioenskap, en ‘n week later in Buenos Aires. Kremer verwag ‘n skitterwedstryd voor hulle tuisskare en glo dit sal in die laaste minute beslis word. Die All Blacks het drie van hulle laaste tien wedstryde teen die Pumas verloor, insluitend verlede jaar se Rugbykampioenskapstoets in Wellington.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-595-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-56-sent per vat.
# En laastens: President Donald Trump van Amerika het bekendgemaak dat die Hollywood-ikoon Sylvester Stallone, die rock-groep KISS en die country-sanger en liedjieskrywer George Strait onder dié is wat vanjaar deur die Kennedy-sentrum vereer word. Ander bekendes sluit in die Britse akteur en komediant Michael Crawford en die plaaslike sangeres Gloria Gaynor. Trump verbreek tradisie deur later vanjaar self die 48ste geleentheid aan te bied en te vervaardig. Hy sê hy kan nie wag om die ontvangers van een van die land se hoogste eerbewyse vir kunstenaars te ontmoet nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….