Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Ses lande is gesamentlik die beste met reisdokumente wat reisigers toelaat om sonder ‘n visum na 194 uit 227 bestemmings te reis. Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Singapoer en Spanje is boaan die Henley-paspoortaanwyser. Suid-Korea, Finland en Swede is tweede met visum-vrye toegang na 193 bestemmings. Denemarke, Ierland, Nederland en Oostenryk is derde. Henley and Partners se voorsitter, Christian H. Kaelin, sê die algemene neiging die afgelope twee dekades is na groter vryheid om te reis.
# Die afslaers Sotheby’s en die Amerikaanse Raad van Modeontwerpers het ‘n vennootskap aangegaan vir ‘n eksklusiewe veiling, met ikoniese ontwerpe en skaars stukke geskenk deur modeontwerpersraadslede en versamelaars van Amerikaanse modes. Die Defining American Style-veiling sluit werk in deur 37 handelsmerke en CFDA-lede, wat deur die ontwerpers self geskenk is. Uitrustings wat deur mense soos Anna Wintour, Kim Kardashian en Jennifer Lopez gedra word, sal later vandeesmaand op die veiling wees. Alle opbrengste van die verkoping is ten bate van die CFDA-stigting.
# Altesaam 619 begunstigdes van regeringsgesubsidieerde huise het hul langverwagte titelaktes in Tekwane-Suid in Mbombela, Mpumalanga, ontvang. Een van die begunstigdes is die 74-jarige Nana Santumela. Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, het die titelaktes gister oorhandig. Die woordvoerder van die ministerie, Hlengiwe Nhlabathi-Mokota, sê die oorhandiging van die titelaktes is een van die regering se prioriteite om volle eienaarskap van eiendom te herstel en sekerheid van besitreg te verleen:
# Die Stad Ekurhuleni doen ʼn beroep op die jeug en werklose inwoners om gebruik te maak van ʼn reeks gratis aanlyn kursusse wat daarop gemik is om mense se kennis oor entrepreneurskap en sake-projekte uit te brei. Die kursus word in twee dele aangebied. Die eerste fokus daarop om entrepreneurskap te ontdek en deeglike verslae op te stel, terwyl die tweede deel leer hoe om ʼn sakeonderneming van stapel te stuur en suksesvol met rolspelers te onderhandel. Die stad se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê aansoeke sluit op die 26ste van dié maand:
# Barbie het nege en daarmee die meeste fliek-benoemings ontvang vir die People’s Choice Awards. Dit sluit Rolprent van die Jaar in. Oppenheimer spog met ses benoemings. In die TV-kategorieë loop Only Murders in the Building voor met sewe, gevolg deur Ted Lasso, The Morning Show en The Last of Us met ses elk. In die musiek-kategorieë is Taylor Swift, Luke Combs, Nicki Minaj en Morgan Wallen elk vyf keer benoem. Die akteur Simu Liu sal die toekenningsgeleentheid op die 18de van volgende maand in die Barker Hangar in Santa Monica aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….