Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Argentynse losvoorspeler Marcos Kremer dink die All Blacks is die sport se weergawe van sy land se Wêreldbekerkampioen-sokkerspan. Die twee lande speel die naweek in Cordoba in die eerste ronde van die Rugbykampioenskap, en ‘n week later in Buenos Aires. Kremer verwag ‘n skitterwedstryd voor hulle tuisskare en glo dit sal in die laaste minute beslis word. Die All Blacks het drie van hulle laaste tien wedstryde teen die Pumas verloor, insluitend verlede jaar se Rugbykampioenskapstoets in Wellington.
# Krieket: Die Australiese kolwers Matt Short en Mitch Owen en die veelsydige Lance Morris sal nie in die komende tuisreeks van drie eendagwedstryde teen Suid-Afrika speel nie. Short en Morris is beseer en Owen het vertraagde harsingskuddingsimptome nadat Kagiso Rabada hom Dinsdag in die tweede T20 teen sy kopskerm raakgeboul het. Die drie word vervang deur Matthew Kuhnemann, Aaron Hardie en die veelsydige Cooper Connolly. Die eerste eendagwedstryd word Dinsdag gespeel.
# Sokker: Die Europese kampioen, Paris St-Germain, het ‘n agterstand van twee doele uitgewis om Tottenham Hotspur met strafdoele te klop en die UEFA Super-beker te wen. Spurs was 2-0 voor ná doele deur Micky van de Ven en Cristian Romero. PSG se plaasvervanger, Lee Kang-in, het verdoel en nog ʼn plaasvervanger, Gonçalo Ramos, het die gelykmaker in die 94ste minuut aangeteken en die uitspeelstryd afgedwing. PSG het dit 4-3 gewen en spog met hul eerste Europese trofee van die seisoen.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, het deurgedring na die kwarteindronde van die Cincinnati-ope toe hy die Franse kwalifiseerder Adrian Mannarino verslaan het. Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, het die Italianer Luca Nardi verslaan en die Franse kwalifiseerder Terence Atmane het die Amerikaner Taylor Fritz geskok. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, die kwarteindronde gehaal met ‘n oorwinning oor Jessica Bouzas Maneiro van Spanje. Iga Swiatek van Pole is ook deur danksy ‘n oorwinning oor Sorana Cirstea van Roemenië.
# En atletiek: Die paalspring-wêreldrekordhouer, Armand Duplantis, is opgewonde oor die ambassadeursrol wat hy volgende jaar gaan speel tydens Wêreldatletiek se nuwe kampioenskap. Die Sweeds-Amerikaanse atleet het onlangs sy 13de rekord in die item opgestel en het ook twee Olimpiese gouemedaljes verower. Hy is as die Ster-atleet van die nuwe kampioenskap aangewys. Die byeenkoms sal teen die einde van die 2026-seisoen in Boedapest, Hongarye plaasvind, en daarna elke twee jaar. Prysgeld vir die eerste jaar beloop 175-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….