Nuus 07:00
BULLETIN 14 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê geslagsgelykheid is grondliggend tot demokrasie
# Die MK-party neem sy twis teen Ramaphosa se Mchunu-besluit na die Hooggeregshof
# En AfriForum onderneem om sy stryd vir privaat brandweerdienste se regte voort te sit
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die bemagtiging van vroue moet voorkeur kry om ekonomiese groei en sosiale gelykheid te bevorder. Hy het die eerste P20-vroueparlement van die sewende administrasie toegespreek. Suid-Afrika beklee die tweede plek onder G20-nasies wat vroue-verteenwoordiging betref, met vroue wat 42-persent van parlementslede uitmaak. Mashatile sê ware demokrasie kan net floreer wanneer alle individue met waardigheid en respek behandel word en toegang tot gelyke geleenthede het:
# Die MK-party het ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas en Firoz Cachalia as waarnemende minister aan te stel, om te keer. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof die party in Julie regstreekse toegang geweier en aangevoer het die saak val buite sy eksklusiewe jurisdiksie. Die party daag ook Ramaphosa se besluit uit om die Madlanga-ondersoekkommissie te stig om beweerde korrupsie, sameswering en politieke inmengery in die polisiediens te ondersoek.
# Die verhoor na die moord op die kletsrymer, Kiernan ‘AKA’ Forbes, en sy vriend en sakepersoon, Tebello Motsoane, word in Julie volgende jaar aangehoor. Die twee is in Februarie 2023 in Durban se gewilde Florida Road doodgeskiet. Vyf mans word beskuldig van sameswering om moord te pleeg, twee gevalle van moord en aanklagte wat met vuurwapens en ammunisie verband hou. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in KwaZulu-Natal, Natasha Ramkisson-Kara, sê die regter sal die saak op 19 Julie sertifiseer as gereed om verhoor te word:
# AfriForum het beloof om brandbestrydingsdienste in Tshwane te ondersteun. Die volg na die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat die stad gelas het om regskoste te betaal nadat hulle hul saak teen die Sinoville Brandbestrydingsvereniging verbrou het. Die hof het die stad gekritiseer dat hy sonder behoorlike gesag opgetree het om privaat brandweerdienste te verban. Tarien Cooks van AfriForum sê die fondse sal gebruik word om privaat brandweerkapasiteit te versterk, terwyl die hof-geding oor privaat brandweerdienste voortduur:
# Rusland het beperkings aangekondig op oproepe op die WhatsApp- en Telegram-toepassings. ‘n Regeringswaghond sê die toepassings het die belangrikste stemdienste vir bedrog en afpersing geword, en ook om Russiese burgers by verdeling en terrorisme te betrek. Russiese sekerheidsdienste het al meermale beweer dat Oekraïne Telegram gebruik om mense te werf of om sabotasie teen Rusland te pleeg. Moskou wil toegang kry tot die data, nie net om bedrog op te spoor nie, maar ook om ondersoek in te stel na aktiwiteite wat Rusland as terrorisme beskryf.
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Venus Williams, is ʼn promotorskeuse by die Amerikaanse Ope. Die 45-jarige Amerikaner het verlede maand by die Washington Ope haar eerste wedstryd in 16 maande gespeel. Vyf ander Amerikaners het ook loslootjies ontvang vir die vroue-enkelspel se hooftrekking, asook Caroline Garcia van Frankryk en die Australiër, Talia Gibson. Intussen is die NextGenATP-ster, Nishesh Basavareddy, onder ses Amerikaners wat in die mans se enkelspeltrekking promotorskeuses is. Valentin Royer van Frankryk en Tristan Schoolkate van Australië sluit ook by hulle aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-571-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….