Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitkoms van Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel kan jare neem
# Die GOOD-party sê Kaapstad se teen-Palestynse munisipale regulasie moet teruggetrek word
# En, tennis: Novak Djokovic en Andy Murray kan kragte meet in die derde ronde in Melbourne
# Die Ceasefire Centre for Civil Rights verwag dat dit lank sal duur voordat ‘n beslissing bereik word of Israel in Palestina dade gepleeg het wat op volksmoord neerkom. Suid-Afrika het gister sy volksmoordsaak teen Israel in die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland voorgelê, en Israel antwoord vandag daarop. Die organisasie se direkteur, Mark Lattimer, sê die hof sal nou slegs voorlopige maatreëls soos ʼn verbod of tussentydse bevel oorweeg. Dit kan egter jare duur voordat ʼn besluit oor die meriete van die saak geneem en ʼn finale uitspraak gelewer word.
Die GOOD-party versoek intussen die Stad Kaapstad om sy nuwe munisipale regulasie oor Buite-advertering te herroep. Suzette Little van die party sê die stad het die regulasie skielik aan die einde van verlede jaar ingedien, terwyl GOOD gewaarsku het dit kan teen die uitdrukking van openbare steun vir Palestina aangewend word. Sy sê die regulasie is deur middel van ‘n onwettige proses aanvaar en word inderdaad nou teen vryheid van uitdrukking gebruik:
# Die Stad Tshwane het die nuwe bedryfsmodel vir die Wonderboom Nasionale Lughawe goedgekeur. Burgemeester Cilliers Brink het die stad se afhanklikheid van die deelname van die privaat sektor verduidelik. Volgens hom moet hierdie benadering die doeltreffendheid van die lughawe verbeter en sy volle potensiaal ontsluit. Brink het aangekondig ʼn prosesplan is goedgekeur met ʼn toegewyde tegniese span wat toesig hou oor die instelling daarvan. Hy sê ʼn transaksie-raadgewer sal gewerf word om die proses te bestuur, om te verseker daar is ʼn gladde oorgang na die beste bedryf van die lughawe:
# Die Britse regering sê hy oorweeg planne om ʼn nuwe grootskaalse kernaanleg te bou wat Brittanje se grootste kernkraguitbreiding in 70 jaar sal wees. Kernkrag voorsien tans sowat 15-persent van die Verenigde Koninkryk se elektrisiteit. Die regering hoop om teen 2050 ʼn vloot kernreaktors te bou wat 24 gigawatt kan lewer. Dit is genoeg om aan ʼn kwart van die nasionale energie-behoefte te voldoen. Eerste minister Rishi Sunak sê kernkrag is die perfekte oplossing vir die energie-uitdagings waarmee Brittanje te kampe het.
# Tennis: Novak Djokovic kan in die derde ronde van die Australiese Ope kragte meet met ʼn voormalige wêreld nommer-een, Andy Murray van Skotland. Die Serwiër mik na sy 11de titel in die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar. Djokovic kom in die eerste ronde in Melbourne teen ʼn kwalifiseerder te staan terwyl Murray Sondag teen die 30ste gekeurde Argentyn Tomás Martín Etcheverry speel. Die toernooi word die eerste keer oor 15 dae gespeel in ʼn poging om die aantal wedstryde wat in die vroeë oggendure afgehandel word, te verminder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-761-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-39-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….