Nuus 16:00
BULLETIN 13 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement weier om minister McKenzie te ondersoek oor beweerde rassistiese opmerkings
# Rusland bestempel die samesprekings tussen Oekraïne en Europa as onbeduidend
# En Krieket Australië se uitvoerende hoof glo toetse moet van beter gehalte wees in plaas van meer wedstryde
# Die Parlement se Etiekkomitee gaan nie die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, se twiets ondersoek waarin die K-woord gebruik word nie, en sê dit was voor hy ‘n parlementslid geword het. Die ATM het die klagte ingedien, maar die Parlement het beslis dit val nie binne die raamwerk van die Gedragskode nie. Die Menseregtekommissie oorweeg steeds ‘n klagte van ActionSA. McKenzie ontken dat hy rassisties is en noem die bewerings ‘n politieke veldtog, maar erken die twiets was ongevoelig en hy is spyt daaroor.
# President Cyril Ramaphosa het die Afrika-Unie se Afrika-Waterbeleggingsberaad in Kaapstad geloof as ‘n deurslaggewende oomblik vir Afrika en die wêreldbeweging vir veilige toegang tot water. Ramaphosa sê die geleentheid is daarop gemik om jaarliks 535-miljard-rand beskikbaar te stel om Afrika se waterbeleggingskloof teen 2030 te oorbrug. Hy het ook beklemtoon die beraad sal pasmaak-beleggings bevorder en waterkwessies op groot wêreldplatforms blootstel:
# Mahindra Suid-Afrika het ‘n nuwe voertuigmonteeraanleg op die Dube TradePort spesiale ekonomiese sone in KwaZulu-Natal geopen. Die aanleg kan ‘n duisend enkel- en dubbelkajuitbakkies per maand aanmekaar sit en die vermoë vergroot indien aanvraag toeneem. Dis ook ontwerp om nuwe modelle te bou wat Mahindra in die komende jare in die land bekend wil stel. eThekwini se burgemeester, Cyril Xaba, sê die aanleg is ʼn groot belegging in die provinsie:
Nuus uit die buiteland:
# Rusland het vandag se Europese diplomatieke gesprekke met Oekraïne as onbeduidend bestempel voor Vrydag se beplande spitsberaad tussen die Amerikaanse president, Donald Trump, en sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, in Alaska. Alexey Fadeev van die Russiese Ministerie van Buitelandse Sake, sê Moskou beskou die gesprekke as polities en prakties onbelangrik. Hy sê Europeërs gee mondelinge ondersteuning aan Washington en Moskou se diplomatieke pogings rondom Oekraïne, maar die Europese Unie saboteer dit. Die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, en Europese leiers gaan later vandag dringende aanlyn gesprekke met Trump voer.
# Krieket: Die uitvoerende hoof van Krieket Australië, Todd Greenberg, glo toetskrieket moet van beter gehalte wees en het nie meer wedstryde nodig om lewensvatbaar te bly nie. Greenberg het met die viering van 100-dae tot die begin van die Reeks om die As teen Engeland gesê ‘n korter toetsprogram sal voordelig wees vir kleiner krieketlande, want die langste formaat kan hulle geldsake ontwrig. Hy sê die As is reusagtig en winsgewend omdat dit reuse-belangstelling ontlok. Hy beskryf dit as die grootste sportgebeurtenis in Australië vanjaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-538-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-356-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….