Nuus 15:00
BULLETIN 13 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA eis duidelikheid van Ramaphosa oor die befondsing en proses van nasionale dialoog
# Eskom het 5,8-miljard-rand se diesel verbrand om die kragnetwerk te beskerm
# En rugby: Die Haaie kies jong spelers vir hulle Curriebeker-kragmeting met Griekwas
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, het president Cyril Ramaphosa versoek om dringend duidelikheid te verskaf oor die befondsing en die proses rakende die nasionale dialoog, wat Vrydag begin. Maimane het skriftelik kommer uitgespreek of die dialoog werklik burgergedrewe sal bly, en gewaarsku die proses verkeer in gevaar om te misluk sonder deursigtigheid, inklusiwiteit en verantwoordbaarheid. Roger Solomons van BOSA vra Ramaphosa om te verseker die dialoog weerspieël die stemme van alle Suid-Afrikaners.
Ramaphosa verwelkom intussen die bekendstelling van die globale raad op waterbeleggings op die Afrika-Unie–AIP Waterbeleggingsberaad in Kaapstad. Dit sal Afrika se Water-beleggingsprogram verhef tot ‘n Globale Waterbeleggingsplatform, wat leierskap, befondsing en vernuwing mobiliseer. Ramaphosa beklemtoon dat die raad vordering reg oor belangrike forums sal dophou, en water van ‘n krisissektor tot ‘n geleentheidsektor sal omskep:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Eskom het diesel strategies gebruik om die netwerk bestendig te maak gedurende die winter-spitstyd of wanneer eenhede onklaar geraak het. Hy bevestig dat ongeveer 5,8-miljard-rand van die dieselbegroting van 12-miljard-rand tot dusver bestee is, wat minder is as die 14,8-miljard-rand vir dieselfde periode verlede jaar. Ramokgopa sê die verbeterde aanleg-werkverrigting het soms ‘n oorskot kragopwekking tot gevolg gehad, wat die ekonomie saam met bestendige kragvoorsiening beweegruimte gee om te groei:
# Rugby: Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, byt vas met sy jong span vir Vrydag se Curriebeker-stryd teen die Griekwas in Kimberley. Die junior Springbok, Bathobele Hlekani, kry sy eerste geleentheid in die beginspan as flank, nadat hy verlede jaar sy Curriebeker-buiging op slot gemaak het. Verdere veranderings onder die voorspelers is Bryce Calvert wat terugkeer as haker, met Deon Slabbert op slot en Matt Romao op flank. Die SA onder-20 ster Ceano Everson is skrumskakel en Paschal Ekeji en die SA Sewes-ster, Christie Grobbelaar, is die nuwe vleuels.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-652-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-360-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-45-sent per vat.
# En laastens: Namibië verwelkom ‘n afvaardiging vroue van die Suid-Afrikaanse Polisiediens as deel van Vrouemaand-vieringe. Die besoek wat tot Vrydag sal duur, beklemtoon die sterk sekerheidsbande tussen die twee buurlande en vereer Suid-Afrikaanse vroue se optog teen apartheids-paswette in 1956. Namibië se polisiekommissaris, Johanna Ngondo, sê die program sluit besoeke aan stasies, ‘n Vrouemaand-konferensie in Windhoek en gemeenskap-skakeling in wat daarop gemik is om dienslewering te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….