Nuus 13:00
BULLETIN 13 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geen beurtkrag word die res van die winter verwag nie
# Die Kaapstadse polisie ondersoek die moord op vier mans in Muizenberg
# En Zelensky en Europese leiers vergader aanlyn met Trump
# Die minister van Elektristeit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê geen beurtkrag word die res van die winter verwag nie. Hy het in Hatfield, Pretoria, die jongste inligting verstrek oor die toestand van die kragnetwerk. Ramokgopa het die verbeterde aanlegwerkverrigting geloof, en verwys na die stelselbestendigheid van Kusile se Eenheid 6 en Medupi se Eenheid 4. Ramokgopa het ook genoem dat onbeplande onderbrekings tot onder kritieke vlakke gedaal het, met die beskikbare energiefaktor wat tot bo die grens van 70-persent verhoog het:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, gaan ‘n strafregtelike klagte indien teen diegene wat gister se brand in die departement se gebou in Germiston, Gauteng, gestig het. Betogers het die brand na bewering met petrolbomme gestig. Dit het groot skade aan die dubbelverdieping-gebou aangerig en belangrike dienste, insluitend die uitreiking van identiteitsdokumente en paspoorte, is ontwrig. Die voorval word gekoppel aan inwoners wat uit hulle woonstelle in Pharoepark verwyder is omdat hulle nie huurgeld betaal het nie. Die polisie-ondersoek duur voort.
# Die Kaapstadse polisie het begin met ‘n soektog na verdagtes ná die dood van vier mans in Overcome Heights, Muizenberg, vroeër vanoggend. Woordvoerder Andrè Traut sê speurders verbonde aan die teenbende-eenheid werk onverpoosd om die gebeure te bepaal wat tot die voorval gelei het. Hy sê die liggame van die vier mans, tussen 20- en 37-jaar oud, is met noodlottige skietwonde aangetref:
Nuus uit die buiteland:
# Europese leiers en die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, gaan vandag aanlyn gesprekke met die Amerikaanse president, Donald Trump, voer. Hulle sal hom probeer oortuig om Kiëf se belange in ag te neem wanneer hy Vrydag in Alaska die oorlog met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, bespreek. Zelensky sal na Berlyn reis om die videokonferensie met die gasheer, die Duitse kanselier Friedrich Merz, by te woon. Merz het ook die leiers van ander Europese lande, die Europese Unie en NAVO genooi om aan die gesprek deel te neem.
# Rugby: Die Springbok Jesse Kriel sê hulle verwag ‘n taai stryd teen Australië in Saterdag se Rugbykampioenskaps-kragmeting op Ellispark, al het die Wallabies pas ʼn uitdagende reeks teen die Britse en Ierse Leeus voltooi. Kriel en André Esterhuizen is die senterpaar terwyl Damian de Allende nog van ʼn ligte besering herstel. Die 31-jarige Kriel is opgewonde omdat Esterhuizen geleentheid kry om teen die Wallabies te wys wat hy kan doen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-980-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….