Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: ‘n Uiters ervare Springbokspan mik vir ‘n vyfde agtereenvolgende oorwinning oor die Wallabies in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets op Ellispark in Johannesburg. Hoofafrigter Rassie Erasmus het 18 Wêreldbekerwenners in sy wedstrydgroep terwyl slegs drie spelers – Jan-Hendrik Wessels, Edwill van der Merwe en Asenathi Ntlabakanye – vyf wedstryde of minder vir die Bokke gespeel het. Erasmus het op ‘n vyf-drie verdeling op die bank besluit. Hy glo hulle sal die soort rugby kan speel wat hulle teen Australië will speel.
Jesse Kriel sê intussen hulle verwag ‘n taai stryd teen Australië al het die Wallabies pas ʼn uitdagende reeks teen die Britse en Ierse Leeus voltooi. Hy en André Esterhuizen is die senterpaar terwyl Damian de Allende nog van ʼn ligte besering herstel. Die 31-jarige Kriel is opgewonde omdat Esterhuizen geleentheid kry om teen die Wallabies te wys wat hy kan doen:
# Krieket: Die beslissende T20 tussen Suid-Afrika en Australië word Saterdag in Cairns gespeel nadat Dewald Brevis gister in Darwin die gasheer feitlik man-alleen verslaan het. Hy het ‘n blitsige onoorwonne 125 van net 56 balle gemoker – die hoogste T20-telling nog vir ‘n Protea-kolwer – en die besoekers het ‘n reuse-218 vir sewe behaal. Brevis het daarna twee vangskote benut terwyl Corbin Bosch en Kwena Maphaka elk drie paaltjies geneem het, en die Aussies is uitgeboul vir 165. Australië het die eerste wedstryd met 17 lopies gewen.
# Gholf: Die wêreld se twee beste spelers, die Amerikaner Scottie Scheffler en Rory McIlroy van Noord-Ierland, speel saam in die eerste twee rondes van die BMW-kampioenskap wat môre in Baltimore, Maryland, afslaan. Die kampioenskap is die PGA-toer se tweede van drie afdelings in die FedEx-beker se uitspeelrondes. Die Engelsman Justin Rose, wat pas die St Jude-kampioenskap gewen het, is saam met die Amerikaner JJ Spaun. Xander Schauffele, ook van Amerika, speel saam met sy landgenoot Michael Kim, terwyl die Noorweër Viktor Hovland en die Amerikaner Akshay Bhatia saam afslaan.
# En tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen Carlos Alcaraz is deur na die vierde ronde van die Cincinnati-ope. Die Spanjaard het die Serwiër Hamad Medjedovic geklop in sy 50ste oorwinning van die seisoen. Andrey Rublev van Rusland het die Australiër Alexei Popyrin in drie stelle geklop. In die vroue-afdeling is die Amerikaner Coco Gauff deur na die laaste sestien toe haar teenstander, Dayana Yastremska van Oekraïne, weens siekte moes onttrek. Die Italianer Jasmine Paolini en die Tsjeg Barbora Krejcikova is ook deur na die ronde van 16.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….