Nuus 12:00
BULLETIN 13 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse polisie ondersoek die moord op vier mans in Muizenberg
# Internasionale Betrekkinge verwerp ‘n Amerikaanse verslag oor menseregte in Suid-Afrika
# En rugby: Jesse Kriel het vertroue in sy sentermaat André Esterhuizen om sy kant te bring teen die Wallabies
# Die Kaapstadse polisie het begin met ‘n soektog na verdagtes ná die dood van vier mans in Overcome Heights, Muizenberg, vroeër vanoggend. Woordvoerder Andrè Traut sê speurders verbonde aan die teenbende-eenheid werk onverpoosd om die gebeure te bepaal wat tot die voorval gelei het. Hy sê die liggame van die vier mans, tussen 20- en 37-jaar oud, is met noodlottige skietwonde aangetref:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê Suid-Afrika verwerp die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se verslag oor menseregtepraktyke in die land. Die verkorte opsomming van die verslag lui dat die menseregte-situasie in die land gedurende die jaar aansienlik versleg het, met die ondertekening van die Wetsontwerp op Onteiening in Desember. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dis hoogs kommerwekkend dat die verslag gegrond is op inligting wat nie in verband geplaas is nie en onakkurate verslae:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, het sy Israelse ampsgenoot, Benjamin Netanyahu, daarvan beskuldig dat hy in ontkenning is oor die gevolge van die oorlog in Gaza. Hy sê frustrasie met die Israelse regering het ‘n rol gespeel in die besluit om volgende maand ‘n Palestynse staat te erken op die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Israel is onder toenemende druk om die oorlog te beëindig, maar sê die erkenning van ‘n Palestynse staat beloon terrorisme. Netanyahu het Australië en ander bondgenote se besluit as skandelik beskryf.
# Rugby: Die Springbok Jesse Kriel sê hulle verwag ‘n taai stryd teen Australië in Saterdag se Rugbykampioenskaps-kragmeting op Ellispark, al het die Wallabies pas ʼn uitdagende reeks teen die Britse en Ierse Leeus voltooi. Kriel en André Esterhuizen is die senterpaar terwyl Damian de Allende nog van ʼn ligte besering herstel. Die 31-jarige Kriel is opgewonde omdat Esterhuizen geleentheid kry om teen die Wallabies te wys wat hy kan doen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-863-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-51-sent per vat.
# En laastens, SANParke sê sy jaarlikse Nasionale Parkeweek is ‘n suksesvolle veldtog wat opvoeding en bewustheid oor die land se inklusiewe benadering tot bewaring verskaf. SANParke gaan volgende maand weer gratis toegang tot die meeste van sy 21 nasionale parke bied. Dit gaan ook gebruik word om ‘n gevoel van trots in die land se natuur-, kultuur- en geskiedenis-erfenis te kweek wat deur die nasionale parkestelsel beskerm en bewaar word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….